Skip to main content

Psalm 17:1-9

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm gaan oor die feit dat God die gebed van die hulpeloses nie verontagsaam nie en bid om verlossing op grond van God se regverdige karakter. Dit is ’n Psalm vir beskerming wat ‘n onskuldige bid wat onder groot druk verkeer. Dit lyk asof dit ook ‘n nag-gebed is, want Dawid bid dit waarskynlik gedurende ‘n lang nag se worsteling met sy omstandighede (vers 3, 15). Belangrik: dit is nie ‘n gebed van iemand wat homself probeer regverdig of probeer verontskuldig nie. Hy is in ‘n spesifieke situasie en kan eerlik sê dat hy geen skuld aan die omstandighede het nie. En hy wil nie net hê dat mense sal sien hy is onskuldig nie, maar dat God dit sal sien en daarom sal optree. Met pragtige metafore beskryf Dawid sy verlange, dat God hom soos sy oogappel sal beskerm, sal wegsteek onder sy vlerke, en sal beskerm van die mense wat sy dood soek.

Bid die Psalm

“’n Dawidsgebed. Luister na my wanneer ek smeek dat U aan my reg moet laat geskied, Here, luister na my geroep om hulp. Gee tog aandag aan my gebed, want wat ek sê, is met opregtheid. Verklaar my nou onskuldig; U sien tog self wat reg is! U het my gedagtes getoets, my in die nag ondersoek. U het my deeglik beproef, maar niks verkeerds gekry nie; ek is vasbeslote om nie te sondig in wat ek sê nie. Wat mensewerk betref – ek het volgens u voorskrifte gelewe en nie die paaie gevolg van geweldenaars nie. My voetstappe was in u voetspore. My voete het nie gewankel nie. Ek roep tot U, o God, want ek weet U sal antwoord. Draai na my toe en luister as ek bid. U wat red met u sterke hand, toon u wonderlike trou aan hulle wat beskerming soek van vyande. Beskerm my soos die appel van u oog. Bedek my in die skadu van u vlerke, van bose mense wat my aanval, van wrede vyande wat my omring.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op hoe Dawid die twee-paaie metafoor van Psalm 1 gebruik en aanpas as hy oor sy handel en wandel praat en dit kontrasteer met dié van die goddelose in vers 5: “Elke stap van my was vas op die koers wat U aangewys het. My voete het nie daarvan afgewyk nie.” ‘n Mens hoor die herinnering aan die wonder van die Uittog uit Egipte in sy gebed in vers 7 (vgl. Eks. 15:11-13). Soos soveel keer in die Psalms is God se wonderdade in die verlede die aanleiding tot vertroue in die hede. Dit is waarom die geloofsgemeenskap ook so belangrik is vir elkeen wat onder druk kom in die lewe, want die wonderdade van God word juis in die geloofsgemeenskap lewendig gehou. En dit is ook waarom hy in vers 7 nie net van uitkoms in sy eie situasie praat nie, maar sê dat verlossing iets is wat vir almal geld in die geloofsgemeenskap. Dawid maak dus volledig staat op God se regverdigheid – en dat Hy niemand wat regverdig lewe in die steek sal laat nie. Laat my dink aan Paulus wat ook nie soseer bekommerd was of mense sy werk en lewe beoordeel nie, maar wat God daarvan sou dink (1 Kor. 4:3-5). Hierdie Psalm is dus ’n smeking dat God jou sal bewaar soos sy oogappel. Dat Hy reg sal laat geskied in die onreg wat jou aangedoen word. Dit is ook ’n aanmoediging om te dink voor jy praat, om jou denke in God se Woord te bly skool, sodat jou woorde en werke onberispelik kan wees.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar