Skip to main content

Psalm 119:57-64

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die agtste deel van die Psalm fokus soos die vorige deel steeds op die krag van God se belofte om hom genadig te wees in die aanvegting wat hy ervaar van goddelose mense. Hulle impak op hom is soos vangtoue of strikke wat hom omstrengel, sodat hy die gevaar loop om in sy gehoorsaamheid aan God se wet ontkrag te word. Hy bid dus dat niks hom sal keer of verhinder in sy voorneme om God se openbaring in alle opsigte na te kom. Let op hoe hy sewe van die agt woorde vir God se openbaring gebruik: gebooie, bepalings, bevele, wet, regverdige beslissings, opdragte, voorskrifte na te kom. Dit illustreer sy vaste voorneme om in alle opsigte aan God gehoorsaam te wees. Hy wil hê dat die Here hom self sy voorskrifte sal leer.

Bid die Psalm

“Here, ek behoort aan U! Ek sê ek wil u woord gehoorsaam. Met my hele hart soek ek U. Wees genadig soos U beloof het. Ek het my lewenspad oordink en het teruggedraai om volgens u voorwaardes te lewe. Ek wil gou maak en sonder versuim u gebooie gehoorsaam. Bande van bose mense verstrik my, maar ek vergeet nie u gebooie nie. Middernag staan ek op om U te dank vir u regverdige bepalings. Ek is ’n vriend vir almal wat U dien, vir elkeen wat u bevele gehoorsaam. Here, die aarde is vol van u trou; leer my tog u voorskrifte.” NLV

Boodskap en betekenis

Hoekom fokus hy só sterk op gehoorsaamheid, selfs al kos dit hom so baie? Omdat, soos die 1983-vertaling dit dinamies vertaal: “Dit is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.” Die NLV het: “Here, ek behoort aan U! Ek sê ek wil u woord gehoorsaam.” Letterlik staan daar: “U, Here, is my deel, ek het onderneem om u woorde na te kom.” (2020-vertaling). Daarmee verwys die Psalmis na die uitsprake in die wet dat die priesters nie ‘n stuk grond ontvang het met die Intog nie, maar dat die Here self hulle deel is: “Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” (Num. 18:20 – 1933-vertaling). En dié deel kan net in ontvangs geneem word, en in stand gehou word, as die Here aan die een kant sy belofte waarmaak – waarvoor die Psalmis hier bid – en ons aan die ander kant ons heelhartig op gehoorsaamheid toelê – waaraan die Psalmis hom hier toewy. Die idee dat God ons deel is, is ‘n tema wat in die Psalms van toepassing gemaak word nie net op priesters nie, maar op alle mense wat die Here die totale fokus van hulle lewe maak. Vgl. Dawid in Psalm 16:5: “Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” Hy kan dit selfs sê in die grootste gevaar toe hy in die grot vir Saul geskuil het: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.” (Ps. 142:6). Een van die Asaf Psalms uit die derde Psalmboek het dit ook van toepassing gemaak op mense – soos in hierdie Psalm – waar hulle geloof in God in ‘n krisis kom weens die effek van goddeloses, in daardie geval weens die impak van hulle voorspoed. Asaf bely dan: “My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd. Want kyk, dié wat ver van U af is, gaan te gronde.” (Ps. 73:26) Daarom lees ons dat die Psalmis bid en worstel met die Here: “Ek het met my hele hart u guns gesoek… Wees my tog genadig volgens u belofte.” Hy het sy paaie (koers) oordink en dit teruggebring na God se bepalings. Hy het hom gehaas: “en nie getalm nie” om God se bevele te gehoorsaam. Hy het God se wet nie vergeet nie, selfs in die middel van die nag die Here geloof. Hy sorg ook dat hy hom omring met mense wat soos hy ontsag het vir die Here, en sy opdragte nakom. Want, hy weet, dit is dán wat hy die belydenis dat die Here sy deel is, sal kan volhou, en die ervaring kan hê dat sy troue liefde die aarde vul.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar