Skip to main content

Psalm 31:1-7

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Ons lees die Psalm in vier dele. Dawid bely in die eerste deel van die Psalm dat hy by die Here skuil, want dit is die enigste plek waar sy vrese besweer word. Daarom bid hy dat die Here hom nie sal teleurstel nie. Dat Hy sy getrouheid aan hom sal bly bewys. Hy het nodig dat God vir hom altyd ‘n rots en ‘n bergvesting bly. Daarom vertrou hy steeds sy lewe aan die hande van die Here toe, want God is sy toevlug. Hy weier om sy hoop op mense te stel wat boonop hulleself tot nikswerd afgode wend. Hy sal sy vertroue net in die Here bly stel.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Here, ek kom na U vir beskerming; moenie dat ek beskaamd staan nie. Red my, want U is regverdig. Luister tog na my en red my gou. Wees vir my ’n rots van veiligheid, ’n vesting waarheen ek kan vlug. U is my rots en my vesting. Lei my, wees vir my ’n gids ter wille van u Naam. Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het, want U is my sterkte. In u hande gee ek my lewe oor. U het my verlos, Here, troue God. Ek haat dié wat nikswerd afgode dien. My vertroue is op die Here.” NLV

Boodskap en betekenis

Uit ’n NT hoek word die Psalm se boodskap verruim, deurdat Jesus aan die kruis die woorde in vers 6: “In u hande gee ek my lewe oor” aan die kruis gebruik het: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46). Waar Dawid gevra het vir redding uit die dood, het Jesus gevra vir redding in die dood (Craigie)! Daarmee wys Jesus dat die uitkoms (tye/toekoms) van ’n mens se lewe regtig in God se hande lê, (vgl. later vers 16) en dat dit selfs die dood kan insluit. Ek dink dit is baie keer ons probleem in ons geloofslewe. Ons fikseer op die uitkoms, die redding self, nog soos onsself dit definieer, en verbind dan ons geloof aan die regte uitkoms, in plaas daarvan om ons geloof aan God te verbind, op Hom te vertrou. En dit stuur net op rampspoed af in terme van ons geloofslewe. Jesus wys vir ons dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ’n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat. Dit sal voorkom dat ons geloof wankel of ten minste ongeloofwaardig voorkom, as die uitkoms nie is wat ons verklaar het dat dit sal wees nie. En kan ons die uitkoms, hoe dit ook al is, met blydskap uit die hand van die Here ontvang.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar