Skip to main content

Psalm 44:1-9

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 44 is ’n roerende maskîl van die geloofsgemeenskap na ’n vernietigende nederlaag teen hulle vyande wat hulle verstrooid gelaat het onder die nasies (vers 12) en verbysterd onder die minagting van hulle vyande (vers 14).  In hierdie geval dui die “gedig” (soos die NLV die Hebreeuse woord vertaaL) op ’n liturgie vir verskillende “stemme” wat hulle ontsteltenis afwisselend voor die Here uitspreek. Dit sien ons in die gebed van die voorganger, waarskynlik die koning, in die eerste persoon (“ek” en “my” in vers 5, 6, 16-17) en die gebed van die Koragitiete namens die gemeenskap, in die derde persoon (“ons” in die res van die Psalm). Die Psalm is verder opgebou uit drie dele: 1) ’n Terugblik na die verlede (vers 1-9), 2) ’n evaluering van hulle huidige nood (vers 10-23) en 3) ’n gebed om hulp en verandering vir die toekoms (vers 24-27). Ons bid vandag die eerste deel (afgesluit met die Sela), en môre die laaste twee gedeeltes.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Van die Koragiete. ’n Gedig. Met ons eie ore het ons gehoor, o God, ons voorouers het ons vertel van alles wat U voorheen gedoen het in die dae lank gelede. U self het die heidense nasies uitgedryf deur u mag en die land aan ons voorouers gegee. U het hulle vyande vernietig, en ons voorouers vrygemaak. Hulle het nie die land met hulle swaarde verower, of die oorwinning deur eie krag behaal nie. Dit was deur u krag, deur u teenwoordigheid en u goedheid, omdat U hulle liefhet. U is my Koning en my God. U bepaal oorwinnings vir Jakob. Ons kan deur u krag ons vyande verslaan en ons aanvallers in u Naam vertrap. Ek steun nie op my boog of op my swaard om my te red nie. Want U gee die oorwinning oor ons vyande; U bring vernedering oor dié wat ons haat. O God, ons prys U die hele dag en loof u Naam voortdurend. Sela” NLV

Boodskap en betekenis

In die eerste gedeelte bring die Psalm die glorieryke verlede van God se groot dade vir sy volk in herinnering.  Die koning bely dat hierdie oorwinning nie deur die volk se eie mag behaal is nie, maar deur God se krag, mag en teenwoordigheid.  Met verlangende verwondering spel hy God se motivering vir hulp uit. Dit was: “omdat U hulle liefhet.” God se hulp in die verlede word dus met lofprysing in herinnering geroep as basis vir die gebed om uitkoms na die nederlaag teen hulle vyande: “Ons kan deur u krag ons vyande verslaan en ons aanvallers in u Naam vertrap.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar