Skip to main content

Psalm 119:161-168

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die 21ste deel van dié Psalm werk steeds met die gehegtheid aan die woord in die konteks van vervolging. Hierdie keer maak hy spesifiek die keuse om nie mense in magsposisies te vrees nie, maar net in ontsag vir die Here se woord te leef. Die Psalmis weet immers dat hy in ‘n sekere sin nie op God se ondersteuning en onderskraging kan staatmaak as hy nie van sy kant af met sy hele hart vasgryp aan God se woord en daarvolgens sy lewe inrig nie. Wat hom hierin begelei, is die vreugde wat hy vind in die woord, presies soos Psalm 1 dit al uitgespel het: “Gelukkig is die mens … wat vreugde in die wet van die Here vind en sy wet dag en nag prewelend opsê.” (Ps. 1:1-2). Trouens, sewe keer ‘n dag loof hy die Here oor sy regverdige beslissings, soos vers 163 meer letterlik vertaal kan word. Eugene Peterson vertaal dit so pragtig: “Seven times each day I stop and shout praises for the way you keep everything running right.” (The Message). Dit is asof die Psalmis in ‘n konteks van aanvegting wil sê dat ‘n mens nog meer as gewoonlik die Here moet loof vir sy woord, meer in elk geval as die drie keer ‘n dag van ‘n Daniël (Dan. 6:11) en ‘n Dawid (Ps. 55:18: “In die aand en in die oggend, selfs in die middag ,het ek gekla en gesteun; toe het Hy my stem gehoor.”)!

Bid die Psalm

“Heersers vervolg my sonder oorsaak, maar al wat ek vrees, is u woord. Ek verheug my in u woord soos iemand wat ’n groot skat ontdek. Alle valsheid haat en verafsku ek, maar u gebooie het ek lief. Ek loof U sewe keer per dag omdat al u bepalings regverdig is. Hulle wat u gebooie liefhet, het groot sekuriteit en niks sal hulle laat struikel nie. Ek sien uit na u redding, Here; daarom voer ek u gebooie uit. Ek het u eise gehoorsaam, en het dit baie lief. Ek gehoorsaam u bevele en eise, want U weet van alles wat ek doen.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis is soos iemand wat ‘n groot buit gevind het en hom net nie kan inhou van opgewondenheid oor sy geluk nie. Soos Jesus ook in die NT in sy gelykenis oor die koninkryk op ‘n soortgelyke wyse vertel: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.” (Matt. 13:44). Die omgekeerde is natuurlik dat in sy vreugde oor die woord, verberg hy ook nie sy afsku vir valsheid, d.w.s. vir mense wat die woorde van die Here verdraai en verontagsaam nie. Hy het die wet van die Here lief en loop daarmee te koop (Ps. 119:163). Hoekom? Want hy weet dat daar sekuriteit is vir diégene wat die wet liefhet, en dat daar vir hulle geen struikelblokke is in hulle toewyding aan die Here. Struikelblokke in die lewe, ja, teenstand, selfs verguising, maar geen hindernis in hulle verhouding met die Here nie (Ps. 119:165). Daarom vestig hy sy hoop op die Here wat verlos en voer hy God se bevele uit, onderhou hy die bepalings, en leef hy in totale openheid teenoor die Here: “U weet van alles wat ek doen.” (Ps. 119:168). Hoekom? Want hy weet dat die Here in ‘n sekere sin net oor sy lewe die wag kan hou, as hy bewustelik oop voor die Here leef. Weereens soos Psalm 1 sê: “Ja, die Here sorg vir (ken) die pad van die regverdiges, maar die pad van die goddelose mense loop dood.” (Ps. 1:6).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar