Skip to main content

Psalm 96

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 96-100 fokus baie spesifiek op die koningskap van die Here, iets wat nie net geld vir sy volk in terme van die verbond nie, maar vir almal op die aarde, omdat sy heerskappy ook ’n universele betekenis het. Ons tref Psalm 96 in sy geheel ook aan in 1 Kronieke 16 waar dit as ’n keurspel van lofliedere – saam met dele uit Psalm 105 en 106 – gebruik word in die feesviering met die tuiskoms van die ark in Jerusalem in die tyd van Dawid. Kronieke gebruik ‘n deel van die verhaal in 2 Samuel 6 om die geskiedenis te verwoord en haal daarby dan ‘n keurspel uit die drie Psalms aan (in hierdie volgorde: Ps. 105:1–15; 96:1–13; 106:47–48) met die titel “Loof die Here”, wat Dawid vir Asaf en sy ampsgenote die eerste keer laat uitvoer het by die geleentheid. Psalm 96 kom dus waarskynlik uit die pen van Dawie. Dit het twee duidelike dele: 1) Sing en getuig tot eer van die God van die gode – vers 1–6; 2) Prys die Regeerder en Regter van die aarde – vers 7–13. Let op hoe God se reddingsdade in die geskiedenis sowel as sy skeppingsmag in terme van die heelal as motivering vir die lof aan Hom beskryf word. Dit is die diepste motivering vir die getuienis aan alle mense op die aarde. Dit is ook waarom almal opgeroep kan word om Hom te loof en prys en van Hom te getuig. Vier keer word almal op die aarde in vers 1–2 opgeroep om ’n nuwe lied tot eer van God te sing/prys, en dan word dit aangevul met ’n oproep om God se reddingsdade te verkondig, en Sy Majesteit onder die nasies bekend te maak. Lofprysing en getuienis gaan saam. Dit is twee kante van dieselfde munt. Daarom word almal wat op die aarde woon, opgeroep om die Here te erken, aan Hom dankoffers te bring en in aanbidding voor Hom te buig en oral te getuig van sy teenwoordigheid en heerskappy. Die “geslagte van die aarde” dui op die subverdelings in nasies, die “tribes” of subgroepe wat daar in elke samelewing voorkom. Hulle word daarom as sodanig erken, maar ook opgeroep om saam die Here te dien. Let op hoe drie belangrike konsepte in vers 10 gebruik word om God se karakter en betekenis te teken: sy soewereiniteit (regeer), stabiliteit (“die wêreld staan vas”) en billikheid (“regverdig oordeel”). Hierdie beskrywing van God het nie net betekenis vir die mense op aarde nie, maar ook vir die hele heelal. Daarom word die hemele en die aarde, die see en alles daarin, die veld en alles daarop, selfs die bome in die bos opgeroep om hulle in God te verheug, want Hy is op pad om sy heerskappy te vestig sodat daar inderdaad stabiliteit, regverdigheid en billikheid op aarde sal wees.

Bid die Psalm

“Sing vir die Here ’n nuwe lied! Sing vir die Here, almal op aarde! Sing vir die Here, loof sy Naam! Verkondig sy verlossing dag na dag. Vertel die nasies van sy heerlikheid, aan al die volke van sy wonderdade. Groot is die Here; lof kom Hom toe! Hý moet gedien word bo alle gode. Die gode van die volke is niks, die Here het die hemele gemaak! Heerlikheid en majesteit is voor Hom; krag en glans is in sy heiligdom. Erken die Here, geslagte van die aarde, erken die Here vir sy heerlikheid en mag. Erken die Here vir die roem van sy Naam! Bring offers vir Hom en kom na sy voorhowe. Aanbid die Here in sy heilige glans. Laat die hele aarde voor Hom bewe. Vertel aan die nasies: “Die Here regeer! Die wêreld staan vas en sal nie wankel nie.” Sy oordeel oor volke is regverdig. Laat die hemele verheug wees, laat die aarde bly wees. Laat die see druis en ook alles daarin. Laat die velde jubel en alles daarop! Laat die bome van die bos juig voor die Here. Want die Here kom! Hy kom om die aarde te oordeel. Hy sal die wêreld oordeel met regverdigheid, en die nasies met sy betroubaarheid.” NLV

Boodskap en betekenis

Psalm 96 roep die volk van die Here, trouens alle mense, op om die Here te prys. Hoekom? Want Hy kom om oor die hele aarde te heers. Die motivering daarvoor word in sy skeppingswerk sowel as sy reddingsdade in die geskiedenis gevind. Dít, sê die Psalmis, moet aan al die nasies verkondig word sodat hulle hulle eie gode, wat in elk geval nie gode is nie, kan verlaat en ook van God se onwankelbare koningskap kan sing. Dié God is aan die kom om oor die aarde te heers met regverdigheid en billikheid, en Israel se getuienis moet die pad vir God onder die nasies gereed maak.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar