Skip to main content

Psalm 115

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

‘n Interessante aspek van Psalm 115 help ‘n mens om aan die een kant die moontlike funksie en rol daarvan in oud-Israel agter te kom en aan die ander kant om dit vir jouself toe te eien. Dit is die waarneming van baie geleerdes dat daar verskillende stemme in die Psalm onderskei kan word. Dit wil voorkom asof dieselfde stem die Psalm begin – vers 1-8 – en die Psalm eindig – vers 16-18. Moontlik was dit die geloofsgemeenskap in die tempel. In die middelste gedeelte – vers 9-15 – kan ‘n mens moontlik ‘n voordrag deur van die priesters onderskei in twee dele (gerig aan die volk, en gerig aan almal saam) – wat die gebruik van dié Psalm in ‘n liturgie verder onderstreep. Daarom lees ons die hele Psalm as ‘n eenheid. Ek merk ook die verskillende stemme om jou te help.

Bid die Psalm

Geloofsgemeenskap: 1-8“Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom toe die eer op grond van u liefde en u trou. Waarom sou die nasies dan sê: “Nou waar is hulle God?” Maar ons God is in die hemel en Hy maak soos Hy wil. Húlle afgode is van silwer en goud, deur mensehande gemaak. Hulle het monde, maar praat nie, hulle het oë, maar kan nie sien nie. Hulle het ore, maar kan nie hoor nie, ook het hulle neuse, maar kan nie ruik nie; hulle het hande, maar kan nie voel nie, hulle het voete, maar kan nie loop nie. Hulle kan nie eers geluide maak met hulle kele nie! Hulle makers sal net soos hulle afgode wees, so ook almal wat op hulle vertrou.

Priesters: 9-11Israel, vertrou op die Here! Hy is hulle helper, Hy is hulle skild. Huis van Aäron, vertrou op die Here! Hy is hulle helper, Hy is hulle skild. Julle almal wat die Here dien, vertrou op die Here! Hy is hulle helper, Hy is hulle skild.

Priesters: 12-15Die Here dink aan ons en seën ons. Hy seën die huis van Israel, Hy seën die huis van Aäron, Hy seën hulle wat die Here dien, sowel klein as groot. Mag die Here julle vermeerder, julle en julle kinders. Mag die Here julle seën, Hy wat hemel en aarde gemaak het. Die hemele behoort aan die Here, maar die aarde het Hy vir die mensdom gegee.

Geloofsgemeenskap: 17-18Dooies kan die Here nie prys nie, ook nie hulle wat die grafstilte binnegaan nie. Maar óns kan die Here loof, nou en vir altyd! Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Dit gaan in vers 1-8 oor die aanvanklike weeklag van die geloofsgemeenskap, waarskynlik in die ontwrigtende situasie van die terugkoms ná die ballingskap, oor die spottery wat hulle moet verduur van afgodsdienaars wat die Here se bestaan ontken. Hulle herinner die Here aan sy liefde en trou wat eer aan sy Naam gee. Let op hoe die geloofsgemeenskap met dié klag hulle eie posisie in afhanklikheid van die Here uitspel. In vers 9-11 antwoord die priesters op die weeklag van die geloofsgemeenskap en beklemtoon vertroue op die Here se hulp en beskerming. In vers 12-15 herinner hulle die geloofsgemeenskap om na te dink nie net oor hulle klag nie, maar oor die wonderlike werklikheid dat Here aan hulle dink en sy algemene seën aan die geloofsgemeenskap sal skenk. Hulle herinner hulle almal saam aan die Here se beloftes rondom die seën van ‘n nageslag en koppel dit aan sy Skeppingsmag. Dié beloftes word nie net uitgespel nie, maar aktief ingespan om vir die Here se vervulling daarvan te vra. Soos die hemel daar is vir die Here, só is die aarde en sy seën daar vir die mense en pleit hulle dat hulle iets daarvan sal kan ervaar. Die geloofsgemeenskap sluit in vers 16-18 op ‘n lofprysende noot af met die voorneme om die Here steeds te prys, “nou en vir altyd!” in reaksie op die herinnering en beloftes van die middelste gedeelte. Die Psalm is daarom ‘n wonderlike uitnodiging om met jou eie situasie voor die Here te kom en aan die een kant jou eie afhanklikheid van die Here te erken, maar aan die ander kant ook jouself te herinner aan God se beloftes en jou vandag in vertroue op God se hulp, beskerming en seën te verlaat. Die Psalm laat my dink aan die opmerking wat John R.W. Stott oor Bybelstudie gemaak het: “In the Bible God gives us revelations of himself which leads us to worship, promises of salvation which stimulates our faith, and commandments expressing his will which demand our obedience. This is the meaning of Christian discipleship.” Dié Psalm leen hom uitstekend daartoe om dit op soortgelyke wyse te lees vir openbarings van God self – Hy bewys liefde en trou, Hy help en beskerm – sy beloftes – Hy seën in die algemeen sowel as in spesifieke omstandighede – en opdragte – om Hom te vertrou en nou en vir altyd te loof. Die meeste Bybelgedeeltes kan met dié eenvoudige drie vrae gelees word tot groot seën vir jou.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar