Skip to main content

Psalm 49:15-21

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die tweede deel van die Psalm waarsku dwase rykes dat hulle soos skape vir die doderyk bestem is waar die dood hulle “herder” sal wees. Maar, die Koragiete bemoedig die opregtes wat op God vertrou, dat Hy hulle sal loskoop uit die mag van die dood ongeag hulle status in hierdie lewe. Daarom moet ‘n mens jou nie kwel oor ryk mense en hulle mooi “wonings” nie, want sonder God sal hulle net soos diere vergaan.

Bid die Psalm

“Soos skape is hulle vir die doderyk bestem, daar waar die dood hulle herder sal wees. Die opregtes sal oor hulle seëvier wanneer die dag aanbreek; hulle sal verrot in die graf wat vir hulle ’n tuiste sal wees. Maar God sal my verseker loskoop uit die mag van die doderyk en my saam met Hom neem. Sela Moenie ontsteld word as die goddelose ryk word en sy woning nog mooier maak nie. Hy kan niks met hom saamneem wanneer hy sterf nie; sy besittings sal hom nie volg nie. Hoewel hy voorspoedig kan wees, en hulle hom toejuig oor sy sukses, sal hy sterf soos sy voorouers voor hom wat nie weer die daglig sal sien nie. Die mens met rykdom sonder insig is net soos diere wat vergaan.” NLV

Boodskap en betekenis

Die waarskuwing dat rykdom as sodanig geen ewige waarde het nie, is ‘n sterk bemoediging vir ons om in opregtheid te volhard in ons gehoorsaamheid aan die Here, maak nie saak wat ons status of situasie in hierdie lewe is nie. Vers 16 is ‘n OT beskrywing van die opstanding uit die mag van die doderyk: “Maar God sal my verseker loskoop uit die mag van die doderyk en my saam met Hom neem.” Soos God die aardse lewe aan ons gegee het, en absolute mag daaroor het, kan Hy die ewige lewe ná die dood vir sy mense gee, want ook dít is ook sy domein. Dit leer die NT ons nog meer volledig (vgl. Joh. 3:16; 1 Kor. 15).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar