Skip to main content

Psalm 83:10-19

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die tweede deel van die Psalm word sewe leiers uit hierdie nasies genoem wat in die verlede deur die Here verslaan is. Hier is ‘n bietjie inligting oor hulle: 1) Midian – dit was ’n seun van Abraham by Ketura (Gen. 25) wie se mense in die Siries-Arabiese woestyn gebly het. Jetro, Moses se skoonpa, was ’n Midianiet (Eks. 3). Asaf verwys hier waarskynlik na die groot oorwinning wat Gideon oor hulle behaal (Rigt. 6) waarna ons nie weer van hulle hoor nie. 2) Sisera – hy was die leërowerste van 3) Jabin, ’n koning van Hasor in Kanaän, wat deur Debora en Barak verslaan is by die Kisonspruit (eintlik ’n vleiland waar Jabin se oorlogswaens vasgeval het), en deur Jael doodgemaak is met ’n tentpen deur die kop (Rigt. 4-5; daar was ook vroeër ’n Jabin wat teen Josua geveg het waarna in Jos. 11 verwys word). En-dor was een van die dorpe waar die veldslag plaasgevind het en waar die heks van En-Dor later deur Saul opgespoor is (1 Sam. 28:7). 4) Oreb – een van die vorste van die Midianiete wat saam met 5) Seëb gevang is en deur Gideon doodgemaak is (Rigt. 7). 6) Seba – hy was een van die konings van die Midianiete in die oorlog teen Gideon soos ook 7) Salmunna (Rigt. 8).

Bid die Psalm

“Maak met hulle soos met Midian, soos U met Sisera en Jabin by Kisonspruit gedoen het. By En-Dor is hulle vernietig, en het bemesting vir die grond geword. Maak hulle leiers soos Oreb en Seëb, en al hulle aanvoerders soos Seba en Salmunna. Hulle het gesê: “Kom ons vat dit vir ons, hierdie land van God!” My God, maak hulle soos ’n tolbos, soos kaf voor die wind. Soos vuur ’n woud verteer, soos ’n vlam berge aan die brand steek, agtervolg hulle só met u orkaan, verskrik hulle met u stormwind. Maak hulle tot skande, Here, sodat hulle u Naam sal eer. Laat hulle altyd beskaamd en verskrik wees. Laat hulle verward wees en vergaan sodat hulle kan weet net u Naam is die Here, die Allerhoogste, oor die hele aarde.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm onderstreep die vertroue wat God se mense altyd kan hê, dat al sê hulle vyande ook al wat, al wil hulle maak en breek soos hulle wil, voor die Here is hulle soos ’n tolbos, soos kaf wat voor die wind uitgewaai word. Die Here is ‘n verterende vuur wat hulle in die skande laat kom. Hoekom? Om sy Naam in ere te hou. Dit gaan dus ook in hierdie gebed nie net om vir die vyand se vernietiging te bid nie, maar om in die proses te bid dat almal: “kan weet net u Naam is die Here, die Allerhoogste, oor die hele aarde.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…