Skip to main content

Psalm 70

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalm begin met ’n interessante woord wat vertaal is met “Herinnering” (ook Ps. 38).  Die woord kan verbind word met die vuuroffer (azkârâh – Lev. 2:2 vv.) wat gewoonlik uit meel/stampkoring en olie bestaan het, waarvan ’n deel verbrand is en ’n deel vir die priesters gegee is.  Die deel wat verbrand is, kan moontlik as ’n herinneringsoffer gesien word, wat God herinner aan sy beloftes en natuurlik ook die een wat die offer bring, herinner aan sy geloftes van toewyding aan God.  Die Psalm het dus waarskynlik só ’n herinneringsfunksie. Die Psalm is ook in sy geheel opgeneem in Psalm 40, vers 14-18, met kleinere wysigings, bv. Ps. 70 gebruik eerder die algemene naam vir God, Elôhîm.  Ps. 70 is daarom moontlik ’n meer populêre weergawe van die voller liturgie van Ps. 40 vir persoonlik gebruik om God te herinner aan wie Hy is en wat die bidder nodig het. Die Psalm het ’n dringende toonaard. Hulp is NOU nodig: “Kom gou, Here, en help my… Kom gou na my toe, o God… Here, moet tog nie langer wag nie!”. Dit is dus uiters bruikbaar in tye waar tyd ’n faktor raak. Dit wil ook lyk asof die bedreigings nie van buite die geloofsgemeenskap kom nie, maar van groepe binne die geloofsgemeenskap. Die Psalmis identifiseer hom bv. met die hulpeloses en armes (vers 6) en bid oor dié wat hom spot (vers 4), dié wat sy lewe wil neem en sy ondergang wil sien (vers 3). ’n Mens kan aan ’n hele paar mense uit Dawid se lewe dink op wie hierdie beskrywing van toepassing kan wees.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Van Dawid. ’n Herinnering. Red my tog, o God! Kom gou, Here, en help my. Laat almal wat my lewe soek, in die skande kom en verward raak. Laat hulle wat my ondergang begeer, op die vlug slaan en beskaamd staan. Laat hulle vlug as beloning vir hulle skande, hulle wat sê: “Aha! Ons het hom!” Maar mag almal wat U soek, vol vreugde en blydskap wees. Mag hulle wat u verlossing liefhet, gedurig sê: “Die Here is groot!” Ek is arm en behoeftig. Kom gou na my toe, o God. U is my hulp en my redder. Here, moet tog nie langer wag nie!” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid herinner die Here aan Wie Hy is: God is groot (vers 5), U is my hulp, U is my redder, U is Jahwe (vers 6). Met dié vier beskrywende titels vir God herinner Hy God aan Wie God is in die verwagting dat God sal optree soos Hy Homself aan Dawid bekend gemaak het. Vers 5 is vir my besonders, omdat dit die geloofsgemeenskap ook intrek: “Maar mag almal wat U soek, vol vreugde en blydskap wees. Mag hulle wat u verlossing liefhet, gedurig sê: “Die Here is groot!”” ’n Teks om die hele dag oor na te dink en in jou gedagtes te vertroetel.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar