Skip to main content

Psalm 119:49-56

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die sewende deel van die Psalm tref my op ‘n besondere diep manier. Dit wentel om die krag van God se belofte – sy woord aan sy dienskneg – wat nie net hoop in die verlede gegee het nie, maar altyd sy vertroosting in enige teenswoordige ellende is. God se belofte hou hom letterlik aan die lewe wanneer dit swaar gaan. Dit gee hom die moed om aan te gaan en die toekoms op grond van God se beloftes aan te pak. En die Psalmis draai nie doekies om oor hoe swaar dit gaan nie. Vermetelde en arrogante mense spot hom tot die uiterste toe oor sy gehegtheid aan God se wet. Tóg het hy nie van God se wet – sy openbaring, sy woord aan die Psalmis – weggedraai nie. In die proses het ‘n groot woede oor goddelose mense hom beetgepak – dié mense wat God se wet verlaat. Meer nog, die Psalmis stel homself nog meer daarop in om God se beslissings te onthou, dié dinge wat hy van van lank gelede af al weet, en word daardeur getroos. Dit is die liedere wat hom in die vreemde aan die gang gehou het, elke keer wanneer hy in die nag daaroor nagedink het (ietwat anders as die ballinge in die roerende Ps. 137 met wie dit só swaar gegaan het, dat hulle dit nie kon regkry om Sionsliedere in die vreemde te sing nie). En die Psalmis het nie net oor God se wet gesing nie, dit was sy gewoonte om hulle na te kom, elkeen van hulle. Vanuit hierdie onthou en vashou, skeur daar dan uit hom hierdie kreet: “Onthou tog u woord aan u dienskneg waarmee U aan my hoop gegee het.” (Ps. 119:49). Want sy troos lê uiteindelik nie in sy eie onthou, óf sy eie woede oor goddeloses, óf sy eie gewoonte om God se woord te onderhou nie. Sy troos lê in God wat sy beloftes onthou en daarom nakom.

Bid die Psalm

“Onthou die beloftes aan u dienaar, want U het my laat hoop. U belofte laat my weer lewe, dit vertroos my in al my ellende. Die hoogmoediges minag my op groot skaal; tog wyk ek nie af van u gebooie nie. Ek onthou u bepalings van ouds; dit vertroos my, Here. Ek is baie ontsteld oor die goddeloses, hulle wat u gebooie verwerp. U voorskrifte is vir my ’n lied tydens my aardse vreemdelingskap. In die nag dink ek aan U, Here, en sal u gebooie gehoorsaam. Dit is soos ek gedoen het, want ek het u bepalings gehoorsaam.” NLV

Boodskap en betekenis

Dít is ook my eie troos. Ek dink vandag ver terug na woorde wat die Here my gegee het as opdragte en beloftes vir my lewe en bediening – woorde wat reeds op baie maniere vervul is, maar ander wat nog tot volle verwerkliking moet kom. Vertroetel dié woorde in jou eie lewe, en bid soos die Psalmis dat God sy woorde aan jou altyd sal onthou.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar