Skip to main content

Psalm 119:41-48

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie sesde gedeelte van die Psalm het twee baie besondere beklemtonings. Die eerste besondere kenmerk is die wisselwerking tussen die troue liefde van die Here waarvoor die Psalmis bid in Psalm 119:41 wat geëggo word in sy vreugde in God se bevele: “in u bevele wat ek liefhet; ek reik uit na u opdragte wat ek liefhet.” (Ps. 119:47-48). Die tweede besondere kenmerk is die beskrywing van die: “vryheid” wat God se wet vir hom gee om die Here te kan dien. Die 2020-vertaling vertaal: “Ek wil u wet voortdurend onderhou, vir altyd en altyd, en ek wil in hierdie vrye ruimte voortbeweeg.” (Ps. 119:44-45). Letterlik staan daar: “ek sal rondloop in ‘n wye plek,” wat metafories geneem kan word, soos die NIV dit dan ook vertaal: “I will walk about in freedom for I have sought out your precepts.” Peterson vertaal op soortgelyke wyse: “And I’ll stride freely through wide open spaces as I look for your truth and your wisdom.” (The Message).

Bid die Psalm

“Here, laat u troue liefde my oordek, die redding wat U my belowe het. Dan kan ek my spotters antwoord, want ek vertrou op u woord. Laat ek tog altyd die waarheid praat, want ek hoop op u geregtigheid. Ek sal u gebooie gehoorsaam so lank as wat ek lewe. Ek sal in vryheid kan lewe, want ek soek u bevele. Voor konings sal ek praat oor u verordeninge, sonder om skaam te wees. Ek verlustig my in u gebooie wat ek baie liefhet. Met eerbied lig ek my hande op vir u gebooie wat ek liefhet. Ek dink na oor u voorskrifte.” NLV

Boodskap en betekenis

God se liefde steek ‘n wederliefde aan wat op drie maniere sy lewe aanraak.

  1. Die liefde wat God in gebedsverhoring bewys, help die Psalmis om antwoorde te gee aan sy spotters deurdat hy kan getuig dat sy vertroue op God se woord nie tevergeefs was nie (119:42).
  2. Die vryheid wat God se wet gee, motiveer hom om met vrymoedigheid oor God se openbaring (bepalings) voor konings te kan praat sonder om hom te skaam (119:46).
  3. En dit maak sy eie hart bly om nog meer en hegter aan God se bevele, opdragte en voorskrifte vas te hou (119:47-48).

Gebedsverhoring gaan dus nie net oor die verhoring as sodanig nie, maar oor die waarde daarvan in terme van jou getuienis voor ander en jou volharding in alle situasies. Bid dus sonder ophou die gebed van Psalm 119:41: “Laat my u troue liefde ervaar, Here, u verlossing volgens u belofte.” Die effek daarvan op ander se lewe sowel as jou eie kan nie oorskat word nie. Dink ook na oor die idee dat die wet nie soseer ‘n beperkende invloed in ‘n mens se lewe het nie, maar jou eintlik ‘n vrye ruimte gee om in God se geopenbaarde wil jouself uit te kan leef. Dit gee mens ‘n hele ander perspektief op God se openbaring aan ons. Dit wil jou vrymaak van die gebondenheid wat die sonde en skuld so maklik in ‘n mens se lewe teweeg bring.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar