Skip to main content

Psalm 27:1-6

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 27 is ‘n gebed om verlossing van valse beskuldigings en eindig met die oproep om sterk te wees, moed te hou en die Here te vertrou. In die eerste deel van die Psalm word God met drie eienskappe beskryf: lig, redding en lewenstoevlug. Hierdie eienskappe van God het sekerheid vir Dawid gebring in sy onderskeie oorloë, maar het ook betekenis in enige situasie waar daar teëstand of teëspoed ervaar word. Dit word aangevul met die enkelvoudige behoefte om altyd in God se teenwoordigheid te lewe – die tempel funksioneer hier as die metafoor daarvoor – en hom te verbly in God se goedheid. Dit is hierdie ervaring van sy teenwoordigheid en goedheid wat hom die vertroue gee om aan God te kan vashou, sodat sy heerlikheid nie net sigbaar sou word nie, maar sy leiding Dawid se lewenspad kan verlig.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees? Die Here is my lewenstoevlug. Vir wie sal ek dan bang wees? Wanneer bose mense kom om my te verslind, my vyande en teenstanders my aanval, struikel en val húlle. Al sou ’n magtige leër teen my optrek, ek sal nie bang wees nie. Al sou hulle my aanval in ’n geveg, selfs dán sal ek hoopvol bly. Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek: om in die huis van die Here te bly al die dae van my lewe, om my te verbly in sy goedheid, en in sy tempel daaroor na te dink. Want as gevaar dreig, sal Hy my wegsteek. Hy sal my in sy woning verberg. Hy sal my op ’n hoë rots laat staan. Dan sal ek my kop hoog oplig bokant my vyande wat my omring. In sy woning sal ek offers van vreugde bring terwyl ek sing en met musiek die Here loof.” NLV

Boodskap en betekenis

God se lig verdryf dus die donkerte, sy redding gee oorwinning oor vyande en as lewenstoevlug is Hy die beskerming in enige nood. Daarop kan ons vertrou. Dit is wie God is. Dit is waarom Dawid hierdie beloftes omarm met die enkelvoudige besluit om altyd in God se teenwoordigheid te lewe en sy goedheid te ervaar. Dink na oor hoe God deur sy lig jou lewe helder maak. Hoe sy redding jou vrees verdryf. Hoe Hy as lewenstoevlug jou veilig laat voel in enige situasie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar