Skip to main content

Psalm 37:30-40

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Watter wonderlike wysheid is daar nie die laaste deel van die Psalm nie! Die regverdige word met die goddelose gekontrasteer. Die regverdige praat en doen wat reg is, want die wet van sy God is in sy hart en hy volg die Here se voorskrifte. Die goddelose kan die wet egter nie verdra nie en doen alles in sy vermoë om die regverdige te laat struikel en op sy bose vlak te kry. Die belofte is egter dat die Here weet hoe om die regverdige te bevestig en die goddelose uit te wis. Op Hom moet die regverdige wag terwyl hy steeds in gehoorsaamheid volhard.

Bid die Psalm

“Die regverdige het wyse raad; wat hy sê, is regverdig. Die gebooie van sy God is in sy hart. Hy sal nie ’n voet verkeerd sit nie. Die goddelose wag die regverdige in, en wag vir die kans om hom dood te maak. Maar die Here verhoed dat hy in hulle mag val sodat hulle hom skuldig kan bevind wanneer hy voor die gereg kom. Vertrou die Here en volg sy voorskrifte. Hy sal jou ophef sodat jy die land sal besit en die goddelose se uitwissing sal sien. Ekself het dit sien gebeur: Hoogmoedige en bose mense floreer soos welige bome. Maar toe ek weer kyk, was hulle weg! Hoewel ek hulle gesoek het, kon ek hulle nie kry nie! Maar kyk na hulle wat eerlik en opreg is, want die toekoms van so ’n mens is vol vrede. Maar oortreders word saam vernietig; hulle toekoms sal tot ’n einde kom. Die Here red die regverdiges; Hy is ’n toevlug in moeilike tye. Die Here help hulle, en red hulle van goddelose mense. Hy red hulle, want hulle skuil by Hom.” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid moedig ons aan om op die Here te vertrou en elke enkele voorskrif van Hom na te volg. Dit is die wysheid wat die toets van die tyd deurstaan het. Bose mense kan vir ‘n tyd lank die skyn van voorspoed vertoon, soos welige bome, maar dit is alte gou verby, en hulle hoogmoed en boosheid om tot ‘n val. Dit het geen ewige waarde nie. Daarteenoor is die toekoms van eerlike en opregte mense nie net beperk tot hierdie lewe nie, maar ook die toekomstige. Die Here se redding is vir altyd.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar