Skip to main content

Psalm 50:16-23

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Asaf vervolg met ‘n appèl aan die goddeloses om met God rekening te hou. Let op dat hulle met die mond die Here dien (Ps. 50:16), maar in gedrag sonder Hom optree en teen sy uitgesproke wil (Ps. 50:17-20).  Veral die oortredings van die tweede tafel van die wet kom onder skoot, die 7de tot 9de gebod: egbreuk, diefstal, leuens.  God (en die liturg by implikasie) kan nie daaroor stil bly nie, want hulle dink reeds God het soos hulle geword! (Ps. 50:21). Daarom moet die goddeloses tot inkeer kom en luister, anders sal hulle duur betaal omdat hulle nie met God rekening hou nie (Ps. 50:22).  Dit is die mens wat reg lewe deur God te eer en lof vir Hom as ‘n offer te bring, wat God se redding ervaar (Ps. 50:23).

Bid die Psalm

“Maar vir die goddelose sê God: “Hoe durf jy my bepalings voorhou en jou op my verbond beroep? Want jy verwerp my vermanings en verontagsaam my opdragte. Wanneer jy ’n dief sien, maak jy soos hy; en met egbrekers vereenselwig jy jou. Jou mond verkondig kwaad, en jou tong praat bedrog. Jy sit en beswadder jou broer, en praat tot nadeel van jou eie broer. Dit alles het jy gedoen, maar Ek het stilgebly, en jy het gedink Ek het soos jy geword. Maar nou eis Ek rekenskap van jou en sal jou openlik beskuldig. Luister hierna, julle wat My misken, anders sal Ek julle uitmekaarskeur sonder dat iemand julle verlos. Hy wat ’n dankoffer bring, eer My. Aan hom wat my pad volg, sal Ek my verlossing bekendmaak.”” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie goddeloses is nie dié wat in die wêreld sonder God leef nie. Dit is mense wat binne die gemeenskap van gelowiges voorkom! Hulle gee hulle offers en woon die erediens by. Maar, hulle harte en hulle lewenswyse is ver van God af met die gevolg dat hulle dink God is soos hulle. Dit bly darem maar ontstellend om dit raak te sien! Maar, die stukkie genade in dié deel van die Psalm is dat God sê: “Luister hierna… anders…” Daar is die moontlikheid van bekering om die Here se pad te begin volg, want daar is verlossing moontlik vir diegene wat tot inkeer kom. Dit is interessant om in die OT die hervormings van Hiskia in 2 Kronieke 29 te lees in die lig van Psalm 50, want van Asaf se lofliedere het die heringebruikneming van die tempel na dit gereinig is en die offerdiens herstel is, begelei (vgl. 2 Kron. 29:3-11, 30). Dieselfde geld die verhaal van Pinksterdag in die NT waar die Jode onder ‘n sondebesef vra wat hulle moet doen, en Petrus antwoord: “Bekeer julle… Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.” (Hand. 2:38-40) Dié wat daarna geluister het, het die verlossing in Christus Jesus ontvang, en is in ‘n nuwe gemeenskap saamgesnoer wat toe God se pad kon volg.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar