Skip to main content

Psalm 129

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm fokus op die teenstand wat gelowiges van goddelose moet verduur en prys die Here vir die verlossing wat Hy telkens bring. Hy gebruik op innemende wyse ploeg- en oes metafore om aan die een kant ‘n prentjie van verlossing uit verdrukking en aan die ander kant verguising vir verdrukkers te skets.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Baie kere, vanaf my jeug, het hulle my verdruk. Laat Israel nou ook sê: Baie kere, vanaf my jeug, het hulle my verdruk, maar hulle kon nie die oorhand oor my kry nie. My rug is vol snye, asof lang vore daarop geploeg is. Maar die Here is goed; Hy het die bande afgesny waarmee die goddeloses my vasgemaak het. Mag almal wat Sion haat skaam omdraai. Mag hulle wees soos gras op ’n dak, wat verdroog voor dit kan uitspruit, en hy wat oes niks het om af te sny, en daar niks is om op te tel nie. Geen verbyganger sal sê: “Die Here se seën is op julle; ons seën julle in die Naam van die Here” nie.”NLV

Boodskap en betekenis

Die liturg in Jerusalem begelei die pelgrims – “laat Israel nou ook sê” – om hulle pyn te verwoord (vers 1-4). Hy skets ‘n prentjie van verdrukking wat waarskynlik die ballingskap as agtergrond het, maar ook op ander situasies van toepassing gemaak kan word. Dié verdrukking was van hulle jeug af, maar hulle kan getuig dat die Here regverdig was, en hulle nooit volledig oorwin is nie. Al het die aanvallers metafories soos ploeërs lang ploegvore oor hulle rug getrek, die Here het die harnas van die goddelose mense se toue waarmee hulle vasgebind was, losgesny. “Scarred survivors,” sê Kidner. Die liturg in Jerusalem begelei tegelykertyd die pelgrims om die verguising wat God belowe vir verdrukkers te verwoord (vers 5-8). Vir almal wat Sion haat – en hulle daarmee as God se teenstanders identifiseer – word beskaming en verydeling toegebid. Met vier verdere oes metafore spel hy dié verguising uit wat die prys is wat haters moet betaal:

  • Selfs die belofte van ‘n oes moet nooit van hulle waar wees nie. Hulle moet verdroog voordat daar ‘n oes is.
  • Só vrugteloos moet hulle lewens wees dat daar nie genoeg van hulle lewens kom wat ‘n mens kan oes nie.
  • “Mag hulle nooit… die vou van die kleed van een wat gerwe bind, vul nie.” Die koring is afgesny en gebêre in die sak voor in die klere wat hulle gedra het, totdat hulle dit in gerwe gebind het. Dit bevestig die vorige gebed dat die nalatenskap van hulle lewens tot niks sal kom.
  • Die slegste uiteinde word gevra in die laaste vers: “Mag verbygangers nooit sê nie: ‘Die seën van die Here vir julle; ons seën julle in die Naam van die Here.’” Die gebruik was dat verbygangers die snyers seën – soos ons in Rut se verhaal lees dat Boas met sy snyers doen en hulle terug aan hom (Rut 2:4) – maar juis hierdie seën word die goddeloses ontsê, beide in terme van die gemeenskap as die Here self se seën.

Pelgrims kon na hierdie gebed hulle lewensreis voortsit met die wete dat God nie net hulle pyn en swaarkry raak sien nie, maar dat Hy ook regverdig is om die verdrukkers hulle verdiende loon te laat kry. Paulus gaan in Romeine 12:17-18 nóg verder, en laat alles oor aan God se regverdige oordeel wat straf en vergelding sal insluit. Daarop kan ons staatmaak en goed bly doen, selfs vir ons verdrukkers, sê hy in vers 20-21: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar