Skip to main content

Psalm 20

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 20 en 21 hou sterk verband. Psalm 20 gaan oor gebedsvoorbereiding. Psalm 21 oor gebedsverhoring. Psalm 20 is gebruik in die tempel as voorbereiding vir die koning om te gaan oorlog maak – soos wat die inhoud dit duidelik maak (vgl. 2 Kron. 20). Vandag sal ons dit waarskynlik gebruik in enige situasie waar ons lewens bedreig word, of waar ons in metaforiese sin teenstand teen die evangelie moet hanteer. Let op dat die geloofsgemeenskap hul solidariteit uitspreek met die uitdaging wat wag – al gaan hulle nie self nie – en saam hul afhanklikheid van God bely. Hulle vermeld ook dat hulle liturgies alles gedoen het wat die Here hulle voorgeskryf het in die proses van oorlog maak – d.w.s. hulle het al die offers gebring wat hulle moes. Jy kan lees in 1 Samuel 7 waar Samuel dieselfde doen, deur op die regte manier die offers te bring wat tot oorwinning lei by Mispa. En dan die omgekeerde daarvan in 1 Samuel 13 waar Saul nie wag vir hierdie liturgiese handeling nie, en voortstorm op sy eie pad. Dit lei tot sy verwerping as koning.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Mag die Here, in tye van nood, antwoord op jou roepstem. Mag die Naam van die God van Jakob jou beveilig teen gevaar. Mag Hy jou te hulp snel uit die heiligdom, en uit Sion jou versterk. Mag Hy dink aan al jou graanoffers, en jou brandoffers gunstig aanvaar. Sela Mag Hy jou hartsbegeertes vervul, en al jou planne verwesenlik. Mag ons juig oor u oorwinning, en baniere hys in die Naam van ons God. Mag die Here al jou gebede verhoor. Nou weet ek: die Here red sy gesalfde koning. Vanuit sy heilige hemel verhoor Hy hom en red hom deur sy groot mag. Sommige volke vertrou op strydwaens en perde, maar ons vertrou op die Naam van die Here ons God. Daardie volke sal val en ineenstort, maar ons sal opstaan en regop staan. Gee tog oorwinning aan ons koning, Here! Mag die Here antwoord wanneer ons na Hom roep.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op dat die Psalm en die gebed om oorwinning sterk verbind is aan die Naam van God, wat die belofte inhou dat Hy in ooreenstemming met Homself en hoe Hy Hom openbaar het in die verlede, sal optree. Die geloofsgemeenskap bely daarom dat die oorwinning nie sal afhang van die strydwaens en perde nie (vers 8) – hoewel dit steeds nie sonder hulle geveg gebeur nie – maar van God wat die oorwinning gee (vers 8-9), wat dan ook die spits is van hulle gebed: “Here, gee tog aan die koning die oorwinning” (vers 10). Dit is vandag nog waar – ons moet doen wat ons moet doen, maar die sukses hang uiteindelik af van God wat optree. Psalm 20 is daarom ’n besondere Psalm om te bid in aanloop tot een of ander stryd in jou lewe, “the day of trouble” soos ’n kommentaar dit stel. Let op die rol van gebede en planne maak wat lei tot die ondersteuning van die geloofsgemeenskap en ’n oproep tot medestryders wat vanuit die gemeente in die stryd gebruik kan word. Onthou, jy staan nie alleen nie! Sorg daarom ook dat jou eie lewe onberispelik is en dat jy “volgemaak” is deur die Woord. Dit is al manier om vas te staan vir die oorwinning wat God sal bring.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda