Skip to main content

Psalm 102:13-23

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die klaaglied van Psalm 102 vervolg in vers 13 met ’n groot MAAR. In sy hulpgeroep herinner die Psalmis homself aan die ander kant van God. Sy genade. En hy vertolk dit as ‘n belofte wat nou in aanskyn moet gaan. God is immers die Heerser en Hy weet Sion is kosbaar vir sy mense, elke klip daarvan. Daarom maak die Psalmis staat op die belofte dat Sion herbou sal word sodat die nasies ontsag sal hê vir Sy Naam en Sy Majesteit. En hy bring dié belofte in gebed na die Here en pleit om ’n antwoord.

Bid die Psalm

“Maar U, Here, sal vir altyd regeer. U bly onthou van geslag tot geslag. U sal verskyn en U oor Sion ontferm, want dis tyd om genadig te wees; die bestemde tyd het aangebreek. Want u dienaars het elke klip daarvan lief, en ontferm hulle selfs oor die puin. Nasies sal die Here se Naam vereer, die konings van die aarde, u mag. Wanneer die Here Jerusalem herbou, sal Hy verskyn in sy heerlikheid, sal Hy luister na behoeftiges se gebede, en hulle pleidooi nie verwerp nie. Dit moet opgeskryf word vir geslagte wat kom sodat ’n volk wat nog geskep sal word, die Here sal prys. Vanuit sy hemelse heiligdom het Hy neergekyk. Die Here het vanuit die hemel na die aarde gekyk om te luister na die smekinge van mense in tronke; om hulle wat veroordeel is, te red van die dood, sodat hulle die Naam van die Here in Sion sal verkondig, en sy lofsange in Jerusalem, wanneer skares bymekaarkom, en koninkryke kom om die Here te dien.” NLV

Boodskap en betekenis

Ten diepste sê die Psalmis hiermee, God is iemand wat luister na die gebed van dié wat alles verloor het; die behoeftiges se gebed sal Hy nie minag nie. Die verhaal van hulle verlossing moet daarom opgeteken word vir die komende geslagte sodat hulle God kan loof en sy lof kan besing. Let op die eskatologiese perspektief wat in die laaste vers geteken word: “wanneer skares bymekaarkom, en koninkryke kom om die Here te dien.” Sy gebed vir die herstel van Sion is nie net ter wille van homself en ander hulpeloses nie, maar ter wille van God se Naam en ter wille van al die volke wat Hom moet dien. ‘n Gebed wat ons dus ook in die NT met oorgawe kan bid.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar