Skip to main content

Psalm 104:1-9

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 104 is ’n pragtige skeppings- en natuurlied. Dit is saam met Psalm 8, 19, 29 en 148 die vyf Psalms wat fokus op die natuur en die skepping in die Psalmboek. ’n Kenmerk van die Psalm is die afwisseling van die tweede persoon aanspreekvorm van die Here as U, met die derde persoon beskrywingsvorm Hy. Dit is nie so duidelik in die NLV of die 1983-vertaling nie, maar kyk gerus in die 1933-vertaling waar afwisselend U in vers 1-4, Hy in vers 5, U in vers 6-9, Hy in vers 10-19, U in vers 20-30 en Hy in vers 31-35 gebruik is. Dit kon miskien afwisselend deur twee persone voorgedra gewees het, omdat die wisseling ook ‘n aanduiding van die dele van die Psalm is. Maar, die betekenis daarvan lê waarskynlik meer in die feit dat die Skepper beide “Hy” en “U” is, ‘n God wat in sy werke waargeneem kan word, maar ook persoonlik geken kan word (Motyer se kommentaar). Dit is verder duidelik dat die inspirasie vir Psalm 104 uit Genesis 1 se skeppingsverhaal kom deurdat die volgorde van die onderwerpe wat in die Psalm aangespreek word in die breë met die skeppingsverhaal ooreenkom: lig, water, plante, son en maan, seediere, kos voorsiening. Dieselfde woordeskat word ook gebruik as in Genesis 1 vir die ooreenstemmende begrippe en dieselfde teologie rondom God – as Skepper en nie as deel van die skepping soos in ander godsdienste van daardie tyd nie – word in beide gehandhaaf. Daar is baie maniere om hierdie lofpsalm in te deel. Ons lees dit in vier dele: vers 1-9; vers 10-19; vers 20-30; vers 31-35.

Bid die Psalm

“Ek wil die Here prys! Here my God, hoe geweldig groot is U! U is beklee met majesteit en eer, bedek met ’n mantel van lig. U span die hemelkoepel soos ’n tent; U bou u woning in die waters daarbo. U maak die wolke u strydwa. U ry op die vlerke van die wind. Die winde is u boodskappers, die weerligstrale u dienaars. U vestig die aarde op sy fondamente sodat dit nooit sal bewe nie. Diepwaters het dit soos ’n kleed bedek, water het bo-oor die berge gestaan. U bevel het die water laat wegvlug; u magtige stem het hulle laat vlug. Berge het verrys en valleie het gedaal na die plek wat U bepaal het. U het vir die waters ’n perk gestel wat hulle nie mag oortree nie, sodat hulle nie die aarde oorspoel nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Here is groot, want Hy is met lig omvou soos met ’n mantel. Hy het alles gemaak, hemel en aarde. Dit sal vir altyd en ewig nie wankel nie. Hy skep soos Hy dit nodig het. Winde en vlammende vuur word sy boodskappers. Wolke word sy strydwa. Hy ry op die wieke van die wind. Alles wat geskep is, is in sy diens. Hy maak daarmee en stuur dit soos Hy wil. Alles wat geskape is, is objekte in sy hande. Net Hy is die absolute Subjek, die Een wat as U aangespreek moet word. Hierdie God het die aarde bewoonbaar gemaak deur die groot waters te beperk, ‘n verwysing na die skeiding tussen land en see in Genesis 1 (vgl. ook Job 38 vv.). Loof Hom vandag vir sy Skeppingsmag.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…