Skip to main content

Psalm 51:12-19

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid wil weer die blydskap en vreugde van God se teenwoordigheid geniet deurdat God aan die eenkant hom vergewe en nie meer ag slaan op sy sonde en skuld nie (vers 11), maar aan die ander kant ook herstel deur hom ’n rein hart, ’n nuwe en standvastige gees vir hom sal gee (vers 12).  Dawid gebruik die woord “skep” waarmee hy in Skeppingstaal skryf oor God se hernuwende werk in hom.  Dit verbind hy dan ook aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees wat hy pleit nie van hom weggeneem sal word nie. Dán sal Dawid God weer met toewyding kan dien (vers 14) en sal hy ander oortreders kan leer wat God van ’n mens verwag, wat hy opsom met die woorde: ”sodat sondaars hulle tot U sal bekeer” (vers 15).  Die lof waarvan die vorige Psalm 50 gepraat het, sal dan weer deel van sy lewe word (vers 16).  Let ook op hoe hy Psalm 50 ook eggo in vers 18-19, dat offers nie soseer is wat God wil hê nie, maar dan in die lig van sy ervaring iets by die eis tot lofprysing in Psalm 50 sit, die eis van God vir ’n hart wat vol ootmoed en berou is.  Dít is iets wat God nie gering sal ag nie. Die Psalm sluit met ’n gebed vir Sion dat hulle God se liefde en goedheid weer sal ondervind veral in die herbou van die mure van Jerusalem.  Daarmee sal die tempeldiens weer herstel kan word, waaruit ’n mens kan aflei dat dié twee verse later in die tyd na die ballingskap bygevoeg is by die Psalm. Die byvoeging is teologies egter baie belangrik, omdat dit keer dat sondebelydenis en vergifnis net persoonlik verstaan word. Sondebelydenis en vergifnis is ook ’n sosiale- en gemeenskapswerklikheid.

Bid die Psalm

“Skep vir my ’n rein hart, o God. Gee my ’n nuwe, standvastige gees. Moenie my verban wég van u teenwoordigheid nie, en moenie u Heilige Gees van my af wegneem nie. Gee my tog weer die vreugde van u redding en maak my gewillig om U te gehoorsaam. Dan sal ek oortreders u weë leer, sodat sondaars hulle tot U sal bekeer. Verlos my van bloedvergieting, God, my Redder-God. Dan sal ek voluit sing van u regverdigheid. Help my om te praat, Here, sodat ek u lof kan verkondig. U verlang nie offers nie, anders sou ek dit bring. Selfs brandoffers wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is ’n gebroke gees. ’n Gebroke en berouvolle hart sal U nie verwerp nie, o God. Wees genadig oor Sion, volgens u goedheid; herbou tog die mure van Jerusalem. Dan sal die voorgeskrewe offers vir U aanneemlik wees, brandoffers, ja, offers wat heeltemal verbrand word. Dan sal hulle weer bulle op u altaar offer.” NLV

Boodskap en betekenis

Hoe diep en omvattend is vers 12-14 nie geformuleer nie: “Gee my ’n nuwe, standvastige gees. Moenie my verban wég van u teenwoordigheid nie, en moenie u Heilige Gees van my af wegneem nie. Gee my tog weer die vreugde van u redding en maak my gewillig om U te gehoorsaam. Dan sal ek oortreders u weë leer, sodat sondaars hulle tot U sal bekeer”. Vergifnis lei tot herstel, lei tot bediening! Gebruik hierdie Psalm as jy die Here om vergifnis en herstel wil vra sodat ook jy deur Hom in die lewe van ander gebruik kan word.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda