Skip to main content

Psalm 119:121-128

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die kumulatiewe gewig van die getuienis van Psalm 119 dat God se openbaring saak maak, begin in hierdie sestiende deel van die Psalm my bewussyn só diepsinnig binnedring dat dit vir my voel asof die Psalmis se ervarings en gebede my eie raak.

Bid die Psalm

“Moenie my oorlaat aan die genade van my vyande nie, ek het gedoen wat reg en regverdig is. Beloof tog dat dit goed sal gaan met u dienaar. Moenie dat verwaande mense my verdruk nie. Ek ooreis my oë om u redding te sien en u woord van geregtigheid. Behandel u dienaar volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienaar; gee my die vermoë om te onderskei sodat ek u voorwaardes kan verstaan. Dis tyd dat U optree, Here, want hulle het u gebooie oortree. Daarom is ek lief vir u opdragte, meer as goud, selfs die fynste goud. Omdat elkeen van u bevele reg is, haat ek elke verkeerde pad.” NLV

Boodskap en betekenis

Aan die een kant oorrompel die geheelboodskap van die Psalm my dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here. Aan die ander kant is ek net so intens bewus van die pyn en verguising wat saamgaan daarmee om die openbaring van die Here onwrikbaar en sorgvuldig na te kom (Ps. 119:128). En bid ek ook die gebed van die Psalmis: “Moenie my oorlaat aan die genade van my vyande nie, ek het gedoen wat reg en regverdig is.” (119:121). En kan ek vandag elkeen van hierdie verse van harte bid: “Beloof tog dat dit goed sal gaan met u dienaar. Moenie dat verwaande mense my verdruk nie.” (Ps. 119:122). As dit dan só is dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here, soos die Psalm sê, waarborg dit dan vir my; sorg dat dit vir my in vervulling laat gaan; sorg dat die goeie my nie verbygaan nie …

  • Ek ooreis my oë om u redding te sien en u woord van geregtigheid.” (Ps. 119:123).
  • Behandel u dienaar volgens u troue liefde…” (Ps. 119:124a).

Die oplossing vir die pyn van dissipelskap lê egter nie in die vermyding van die pyn van gehoorsaamheid nie, maar in die omhelsing daarvan, om IN die pyn te leer wat God se voorskrifte is. Want, dit is dié wat ly wat gehoorsaamheid leer ken, wat deur God geleer word, hoe nou verder. Dit is die punt van dié Psalm. Ons is God se diensknegte beide in die ervaring van sy troue liefde as in die ervaring van die pyn van gehoorsaamheid. Daarom, steeds die versugting, selfs en veral in die pyn van navolging: “…en leer my u voorskrifte.” (Ps. 119:124b).

Ek het altyd gewonder wat presies dit beteken dat Jesus gehoorsaamheid geleer het deur sy pyn, tot ek Hebreërs 2 vroeër bestudeer het en agtergekom het dat die pyn van gehoorsaamheid jou verlos van jou vrees vir die dood. Trouens, die deel kry aan die “littekens van Jesus” is ons “handelsmerk” as kinders van die Here. Paulus gebruik dié beskrywing in Galasiërs 6:7 waar hy verwys na die wonde wat hy in sy navolging van die Here opgedoen het. Die wonde het hom “gekenmerk” (die Griekse woord stigma word gebruik) as ‘n volgeling van Jesus. Die wonde was nou sy “handelsmerk”. Lyding in gehoorsaamheid het egter nie net die effek dat dit jou vrees vir die dood wegneem nie, maar dit verdiep ook jou vreugde om een met die Leidsman en Voleinder van ons geloof te wees, as jy ook deel in sy lyding. Daar is ‘n ongekende diep vreugde – iets wat jy net leer ken as dit gebeur – in ‘n mens as jy bevoorreg genoeg is om vir die Here te ly, soos die verhaal van Dmitri ons ook geleer het. Lyding oortuig jou op ‘n vreemde, maar diepsinnige manier, dat jy deel is van sy heilige familie!

Daarom is my behoefte vandag dieselfde as die Psalmis s’n: “Ek is u dienaar; gee my die vermoë om te onderskei sodat ek u voorwaardes kan verstaan.” (Ps. 119:125). Want, ek leer hier dat kennis nie net met verklaring te make het nie, hoe belangrik dit ook al is. Kennis het met insig te make, en dié insig kom baie keer eers tot jou as jy pyn in jou gehoorsaamheid van God se openbaring ervaar. Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid.

Daarmee saam bid ek ook dat die Here in sy regverdigheid sal optree, omdat dit net só duidelik is vir my vandag dat mense rondom ons die openbaring (wet) van God kragteloos maak met hulle oortredings daarvan (Ps. 119:126). Soos dit in die Psalmis se tyd was, só is dit ook vandag. Daarteenoor moet die Psalmis natuurlik homself aan God se bevele en opdragte oorgee om dit sorgvuldig na te kom, soos dit ook gevra word van elkeen van ons (119:128a). Daarom sê die Psalmis, het hy God se bevele lief: “meer as goud, selfs die fynste goud.” (Ps. 119:127). En die omgekeerde is net so waar: “Omdat elkeen van u bevele reg is, haat ek elke verkeerde pad.” (Ps. 119:128b).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar