Skip to main content

Psalm 21:1-8

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 21 is die keersy van Psalm 20. Waar Psalm 20 die gebed om hulp was, is Psalm 21 die viering van daardie hulp. “U het hom die wens van sy hart gegee en die begeerte van sy lippe nie geweier nie!” En: “Hulle het ’n listige plan uitgedink sonder om iets uit te rig.” Hy kan die Here loof vir sy gebedsverhoring in die eerste deel van die Psalm.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Die koning is bly oor u mag, Here, vol vreugde oor u verlossing. U het hom sy hartsbegeerte gegee; niks wat hy gevra het, het U geweier nie. Sela U gaan hom tegemoet met seëninge van voorspoed. Op sy kop sit U ’n kroon van suiwer goud. Lewe het hy van U gevra, en U het dit gegee – ’n lang lewe wat steeds voortduur. U oorwinning besorg hom groot eer; met glans en majesteit het U hom beklee. U het hom bekroon met seëninge vir altyd, en hom gegee die blydskap van u nabyheid. Want die koning vertrou op die Here. Die trou van die Allerhoogste sal hom van struikeling bewaar.” NLV

Boodskap en betekenis

’n Mens hoor in die verwysing na die goue kroon wat die Here op sy kop geplaas het (vers 4), moontlik die verhaal van Dawid se oorwinning oor die Ammonitiese koning in Rabba (2 Sam 12:26-31). Daar word vertel dat Dawid: “die kroon van hulle koning se kop afgehaal (het). Die kroon was van goud, sowat vier en dertig kilogram, en het ’n kosbare steen bevat. Dit het nou op Dawid se kop gekom, en hy het ook ’n groot buit uit Rabba saamgevat.” ’n Baie swaar kroon! Die belangrike vir Dawid is egter nie soseer die oorwinning, of die lang lewe en al die ander voordele wat sy verbintenis aan die Here vir hom gee nie, maar die nabyheid van die Here self. Dit gaan nie oor die dinge van die Here nie, maar oor die Here van die dinge! Dink na oor oorwinnings wat die Here in antwoord op gebed vir jou gegee het en loof Hom daarvoor.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar