Skip to main content

Psalm 40:12-18

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In aansluiting by die eerste twee foci in die Psalm (herinnering, toewyding) neem Dawid, met die oog op nuwe uitdagings weereens ‘n wagposisie in met die gebed dat die Here weer sal doen wat Hy in die verlede gedoen het. Hy weet hy kan nie homself help nie, onder andere weens sy  eie sonde. Hy is diep afhanklik van God. En sy versugting is dat God nie sal talm om hom te hulp te snel nie.

Bid die Psalm

“Here, moenie u ontferming van my weghou nie. Laat u liefde en trou my altyd beskerm. Want rampe het my oorval. Daar is moeilikhede rondom my, dis te veel om te tel! My sondes het my ingehaal; ek kan dit nie ontsnap nie. Hulle is meer as die hare op my kop. Ek het alle moed verloor. Asseblief, Here, red my tog! Kom gou, Here, en help my! Laat almal wat my lewe wil neem, in skande kom en verneder word. Laat hulle wat my ondergang begeer, vlug en beskaamd staan. Laat hulle verbysterd wees oor hulle skande, hulle wat sê: “Aha! Ons hét hom!” Maar mag almal wat U dien, vol vreugde en blydskap wees. Mag hulle wat by U hulp soek, voortdurend sê: “Die Here is groot!” Ek is arm en behoeftig, maar die Here dink aan my. U is my hulp en my redder. My God, moet tog nie uitstel nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid beweeg van herinnering en toewyding na smeking. Dit is ’n wonderlike Psalm om jou vasgevalde situasie voor die Here te bring, en jou te beroep op God se ontferming, liefde, trou, grootheid, hulp en redding. Dit is waarom hierdie hele Psalm die struktuur van jou worsteling met jou unieke situasie kan vorm. Om God se reddingsdade in die verlede in herinnering te roep, om jouself opnuut aan God toe te wy in gehoorsaamheid en getuienis, en jou behoefte in elke detail aan Hom bekend te maak en jou verwagting te stel in sy ontfermende karakter. Terloops: vers 14-18 van Psalm 40 kom in effens gewysigde vorm as ‘n aparte Psalm voor, Psalm 70, waarskynlik aangepas om as ‘n kort skietgebed in ‘n krisis gebruik te word.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar