Skip to main content

Psalm 78:1-12

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie wysheid Psalm van Asaf fokus op verhale uit Israel se geskiedenis om die raaisel van onbestendigheid te verklaar. Dit is daarom lank, 72 verse lank. Net Psalm 119 is langer met 172 verse. Om ’n mens te help om sin van die geskiedenis te maak, kan ‘n mens die Psalm as volg indeel om die retoriese krag van die Psalmis se onderrig te kan waardeer:

  • Die raaisel van onbestendigheid: vers 1–12
  • Eerste Herinnering oor vals bekerings wat niks verander nie: vers 13-39
    • Gebeure in die woestyn: vers 13–32
      • Versorging: vers 13–16
      • Opstand: vers 17–20
      • Straf: vers 21–32
    • Nadenke: vers 33–39
  • Tweede herinnering oor God se keuse van Dawid, die een met die opregte hart: vers 40-72
    • Van Egipte tot Kanaän: vers 40–64
      • Versorging: vers 40–55
      • Opstand: vers 56–58
      • Straf: vers 59–64
    • Nadenke: vers 65–72

In die eerste deel van die Psalm word die afvalligheid van die Efraimiete as ‘n voorbeeld geneem. Dit is eerstens, omdat hulle talle kere deur die loop van die geskiedenis hulle van God se gebooie, en soms ook van die res van die volk afgeskei het. Dit sien ons alreeds met die verhale in Rigters, waar hulle die Kanaäniete nie uitgedryf het uit hulle gebied nie – Rigters 1:29 – in opstand gekom het teen  Gideon, omdat hulle nie met sy strategie teen die Midianiete saamgestem het nie – Rigters 7-8 – sowel as teen Jefta, toe hulle nie opgedaag  het vir die geveg teen die Ammoniete nie – Rigters 11-12 – en boonop afgodediens geakkommodeer het soos ons in Rigters 18 met die verhaal van Miga en sy afgode lees. (Die verwyt in die Psalm dat die Efraimiete nie geveg het nie verwys waarskynlik na die gebeure met Gideon en/of Jefta in die Rigterstyd.) Dit het later tot algehele verval gelei na die skeuring van die ryk in die tyd van Jerobeam waar hy ‘n alternatiewe heiligdomme in Bet-El en Dan geskep het (1 Kon. 12:29), en onder die oordeel van die Here gekom het met die uiteindelike ballingskap in 722 v.C. Dit is tweedens, ook omdat daar in die Psalm self ‘n kontras met Juda in die laaste deel geskep word met Dawid wat die koning na God se hart was en van Juda afkomstig was (vgl. vers 67-72). Terloops: Soan (vers 12, 43) is die plek in die Nyldelta in Egipte waar die Israeliete tydens die 430 jaar van slawerny gebly het (vandag is dit Tanis). Dit is ook waarvandaan die Uittog in 1445 v.C. plaasgevind het. Anders as wat die patroon tot dusver was, gaan ons dus die Psalm in drie dele lees sodat ons die onderskeie dele as ‘n eenheid kan lees. Dit is dus beduidend langer as wat tot dusver die geval was.

Bid die Psalm

“’n Asafpsalm. O my volk, luister na my lering. Gee ag op wat ek sê, want ek wil julle onderrig met ’n psalm. Ek wil julle lesse leer uit die verlede. Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons voorgeslagte ons vertel het, verswyg ons nie vir ons kinders nie, maar vertel vir die volgende geslag van die roemryke dade van die Here, van sy krag en van sy wonderdade. Hy het voorskrifte aan Jakob gegee, en sy gebooie aan Israel. Hy het ons voorouers beveel om dit aan hulle kinders te leer sodat die volgende geslag dit kan ken, en selfs die ongebore kinders weer húlle kinders kan leer. So sal hulle op God kan hoop, die werke van God nie vergeet nie, maar sy bevele gehoorsaam en nie soos hulle voorouers wees nie. Hulle is ’n ongehoorsame, opstandige geslag, wie se hart nie getrou was nie, wie se gees ontrou was aan God. Die Efraimiete was goed bewapen, met boogskutters in hulle leër. Maar op die dag van die geveg het hulle omgedraai. God se verbond het hulle nie gehou nie, en hulle het geweier om volgens sy voorskrifte te lewe. Hulle het sy dade vergeet, die wonders wat Hy hulle gewys het, en die wonders wat God gedoen het voor die oë van hulle voorouers in Egipte en in die vlaktes van Soan.” NLV

Boodskap en betekenis

Asaf onderrig met hierdie Psalm die volk met ‘n paar lesse uit die verlede. Daarmee sit hy die raaisel van onbestendigheid op die tafel, want God se openbaring was van altyd af bedoel om die volk te leer en is van geslag tot geslag oorgedra. Só sou hulle God en sy wonderwerke nie vergeet nie en Hom bly gehoorsaam. Tog, leer die geskiedenis mens dat ongehoorsaamheid en opstand meesal geseëvier het; dat die hart van die hele volk nie getrou was aan God nie. Daar was fout met hulle innerlike verbondenheid aan God. Omdat hulle daarom nie aan die verhouding met God verbonde gebly het nie, geweier het om te lewe soos Hy hulle geleer het en vergeet het van sy werke en wonderdade, het dit ’n uitwerking in hulle gemeenskapslewe gehad. Hulle was ook onbestendig teenoor mekaar, geïllustreer deur die voorbeeld van die Efraimiete. En dít is ’n raaisel. Dit behoort nie só te wees nie, nie met ’n volk wat op só ’n wonderlike wyse deur God begenadig is nie, vir wié Hy die perfekte plan gegee het en vir wie Hy op soveel wyses gesorg het deur dik en dun, soos die res van die Psalm gaan uitlê. Jesus gebruik hierdie Psalm om sy gebruik van gelykenisse te verduidelik. Hy haal vers 2 in Matteus 13:35 aan om te verduidelik dat die betekenis van God se openbaring verborge bly vir dié wat dit nie gehoorsaam nie. Daar was in sy tyd steeds die skares wat God se openbaring in Jesus gehoor het, maar dit steeds nie gehoorsaam het nie. Vandaar die gelykenisse as strategie vir die koninkryk. Vir die ongehoorsames was die boodskap daarvan verborge. Vir dié wat Jesus gehoorsaam het, was dit die lewegewende boodskap van God.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar