Skip to main content

Psalm 119:73-80

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die tiende deel van die Psalm is ryk aan betekenis. Om die waarheid te sê, daar is verskillende vertalings moontlik by ‘n hele paar woorde wat verskillende dimensies van die betekenis van die Psalm na vore bring. Die eerste interessante veelvlakkige betekenis is in vers 73 waar die Psalmis sê: “U hande het my gemaak, my gevorm.” (1983-vertaling – “toeberei” in 1933-vertaling). Die laaste woord (kûn in Hebreeus) kan egter ook vertaal word in die betekenis van: “aan my ‘n plek gee” (2020-vertaling) of in die sin van “vestig” of “bevestig” (“establish” – LEB). Dit beteken dat die eerste deel van dié vers God se skeppende werk in ons geboorte bevestig, sowel as sy voortgaande werk in terme van ons “vorming”, “bevestiging” en selfs die “plek” wat Hy vir ons in die lewe gee. Maar, dit is nie al nie. Ná dié belydenis van God se skeppende en vormende werk in sy lewe, bid die Psalmis dan in die tweede plek: “Gee my tog insig om u gebooie te verstaan.” Hy wil as’t ware voltooi word, meer insig in God se wil bekom, sodat sy lewe op alle vlakke aan God se visie vir hom kan beantwoord. Peterson koppel dit aan ‘n begrip ook van God self in sy vertaling: “now breathe your wisdom over me so I can understand you.” (The Message). God se kreatiewe werk in ons word dus voortgesit deur ‘n al hoe beter begrip en bemeestering van sy wil, soos uitgedruk in sy bevele (mizwôt – “commandments”). En die effek daarvan is nie net ‘n al hoe meer volwasse moreel-etiese persoonlike lewe vir die Psalmis nie, maar ook ‘n publieke getuienis aan die geloofsgemeenskap.

Bid die Psalm

“U hande het my gemaak, my gevorm. Gee my tog insig om u gebooie te verstaan. U dienaars sal my sien en bly wees, want op u woord hoop ek. Ek weet, Here, u bepalings is reg; op grond van u trou bestraf U my. Laat u troue liefde my nou vertroos soos U aan u dienaar beloof het. Laat u medelye my oordek sodat ek kan lewe, want u gebooie is my vreugde. Laat die verwaandes in skande kom omdat hulle my vals beskuldig; maar ek sal u bevele oordink. Laat u dienaars terugkom na my toe, hulle wat u voorskrifte ken. Mag ek onberispelik wees in die uitleef van u gebooie; dan hoef ek nooit beskaam te wees nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Elkeen wat die Here dien, kan moed skep uit die feit dat ook die Psalmis se insig deur God self gevorm word, dat dit sigbaar is, en dat dit van groei getuig. Die sigbare groei steek die hoop by die geloofsgemeenskap aan dat dit ook vir hulle waar kan wees. Soos Paulus veel later vir Timoteus sou sê: “Lê jou toe op hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vordering vir almal duidelik kan wees … Want sodoende sal jy jouself red en ook hulle wat na jou luister.” (1 Tim. 4:15-16). Die getuieniskrag van sy lewe laat die Psalmis dus anders kyk na die Here se beslissings. Dit hou vier aspekte in:

  1. Hy erken God se beslissings omdat dit sy getuienis vorm. Hy weet God is regverdig, en as daar vir hom vernedering langs die pad is, gebeur dit nie buite-om God se getrouheid nie. Om die waarheid te sê, swaarkry is deel van God se getrouheid. Nie net bewaar Hy ons daarin nie – of dit nou weens ons eie skuld of die skuld van ander is. God gebruik dit as deel van ons getuienis aan die geloofsgemeenskap wat ander laat moed skep om hulle eie pad na volwassenheid met die Here te loop. Dié erkenning is lewensnoodsaaklik vir groei in jou lewe.
  2. Hy bid vir konkrete bewyse van God se troue liefde. Hy bid dat die troue liefde van die Here steeds vir hom tot ‘n troos sal wees, in antwoord op die beloftes van die Here in dié verband. Trouens hy wil God se ontferming konkreet in sy lewe ervaar, sodat sy vreugde in die wet geëggo kan word in sy lewensvreugde, veral omdat die vermeteles en hovaardiges hom veronreg met leuens terwyl hy probeer om sy lewe in te rig volgens sy verdieping in God se woorde. Ons mag dus hiervoor vra.
  3. Hy bid ook dat die Here vir hom mense sal gee om hom te ondersteun. “Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken.” Die geloofsgemeenskap is van onskatbare waarde in ‘n volhardende geestelike lewe.
  4. Hy bid dat die Here self in sy lewe, veral sy hart, sal werk. Dit is die belangrikste van alles. Hy bid dat die Here self sal keer dat hy beskaam word in sy lojaliteit aan God: “Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou.”

Inderdaad – my gebed ook vir myself vir hierdie dag.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar