Skip to main content

Psalm 85

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is belangrik om vers 2-4 as ‘n eenheid te lees in Psalm 85 van die Koragiete en dan vers 5-8 as ‘n eenheid, iets wat meer duidelik in die 2020-vertaling as in die NLV en die 1983-vertaling gedoen word.  Anders maak die verandering in perspektief van vers 4 na 5 nie sin nie – “4U het u gloeiende toorn laat afkoel… 5Herstel ons, God van ons redding. Laat vaar u woede teen ons.” Só kan ’n mens beter raaksien dat vers 2-4 terugverwys na God se vroeëre herstel van die volk ná ’n tyd van woede.  Dit kan verwys na enige episode in die Rigters- of Koningstyd, selfs na die terugkeer uit ballingskap.  Vers 5-8 is dan ’n bede dat die Here Hom nou weer oor hulle sal ontferm, in ’n tyd waarin die volk weereens ervaar dat die Here vir hulle kwaad is.  Hy is immers hulle Verlosser wat die lewe vir hulle weer nuut kan maak, sodat hulle hul vreugde in die Here kan vind. Die res van die Psalm, vers 9-14, bevat die verbintenis van die liturg namens die volk om na God te luister en ’n beskrywing van die verwagte oorvloedige uitkoms wat God sal bring vir dié wat vir Hom ontsag het.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Van die Koragiete. ’n Psalm. Here, U was goed vir u land. U het die lot van Jakob verander. U het die skuld van u volk vergewe. U het al hulle sondes kwytgeskeld. Sela U het u woede bedwing. U het u gloeiende toorn laat afkoel. Herstel ons, God van ons redding. Laat vaar u woede teen ons. Sal U altyd vir ons kwaad bly? Sal u woede dan voortduur van geslag tot geslag? Sal U nie ons weer laat herlewe sodat u volk bly kan wees in U nie? Laat ons u troue liefde ervaar, Here, en skenk ons u verlossing. Ek sal luister na wat God die Here sê. Hy belowe vrede aan sy volk en aan hulle wat getrou is. Laat hulle nie weer terugkeer na hulle dwase weë nie. Redding is beslis voor die deur vir hulle wat Hom dien. Dan sal sy magtige teenwoordigheid in ons land bly woon. Liefde en trou sal mekaar ontmoet. Regverdigheid en vrede sal mekaar omhels! Waarheid sal uit die aarde ontspring, en geregtigheid uit die hemel. Die Here sal beslis voorspoed gee, en ons land sal oeste oplewer. Regverdigheid sal Hom vooruit gaan en vir sy koms die weg berei.” NLV

Boodskap en betekenis

God se vergewende karakter staan voorop in die eerste verse waar die nuwe toekoms wat Hy aan die nageslag van Jakob gegee het, gekoppel word aan die feit dat God die volk hulle sondes nie toereken nie en al hulle skuld kwytgeskeld het. God se woede kan dus bedaar. Daarop kan ‘n mens reken. Die gebed van die Koragiete verraai egter in vers 5-8 hoe wispelturig die Godsvolk kan wees, omdat dit waarskynlik gebid word in ’n nuwe siklus van ongehoorsaamheid wat tot die straf van die Here gelei het.  Weereens word staatgemaak op God se karakter as Verlosser, dié een wat nie vir altyd kwaad bly nie.  Van Hom word gevra dat Hy die lewe weer nuut sal maak, op só ’n wyse, dat die volk weer hulle vreugde in die Here kan vind.  Hulle het behoefte aan die troue liefde van die Here wat sy reddende hulp skenk selfs al stel hulle Hom teleur. In die laastes deel verbind die Koragiete hulleself plegtig aan die Here, waarskynlik namens die volk wat na hulle luister, om te luister na wat die Here sê, want hy weet dit is die woorde wat vrede vir die volk sal bring.  Hoekom?  Want: “Redding is beslis voor die deur vir hulle wat Hom dien.” Saam met die verbintenis spreek die Psalmis sy verwagting uit dat die Here sy verlossing só sal bring dat daar sewe uitkomste vir die volk sal aanbreek (vers 10-13). Die toppunt van dié uitkomste is egter die agste een, dat God sy mense sal besoek, dat Hy na hulle toe sal kom (vers 14).  Dit is die einddoel van alles, om in die teenwoordigheid van God te lewe. Die Psalm het daarom ’n universele toepassing wat pas in enige tyd van ontwrigting waarin staatgemaak word op God se ingrype in die verlede as motivering vir ’n gebed vir omkeer in die hede. Dit tref my hoe belangrik nie net die gebed om verandering in ’n mens se lewe is nie, maar ook die verbintenis aan en verwagting van God.  Die Psalm leer ons dat al drie elemente onontbeerlik is vir die herstel van ’n mens se verhouding met God en vir die ontvangs van die vrede wat Hy bring.  Ons moet met alles in ons bid vir verandering.  Ons moet net so vasberade onsself aan God verbind en sorg dat ons nie weer afdwaal nie!  En ons moet met net soveel oorgawe vashou aan die agtvoudige verwagting wat die Psalmis hier uitspel. Dit alles sal gebeur, omdat geregtigheid voor Hom uitgaan en die weg baan vir sy voetstappe!  Mensig, watter room en visie om voor te bid, te lewe en na uit te sien!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar