Skip to main content

Psalm 106:13-33

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalmis fokus vervolgens op ses verhale van die volk se opstand teen sy begeleiding deur die woestyntyd. Hy sal daarna fokus op vier verhale van die volk se opstand in die vestiging van die volk in Israel. Ons lees net die deel oor die opstand in die woestyn vandag.

Bid die Psalm

“Tog het hulle gou sy dade vergeet en nie op sy leiding gewag nie. In die woestyn het hulle begeertes opgevlam. In die wildernis het hulle God se geduld beproef. Hy het gegee wat hulle gevra het, maar hulle ook getref met ’n siekte. In die kamp was hulle jaloers op Moses, en ook Aäron, wat aan die Here gewy was. Die aarde het oopgegaan, Datan ingesluk, en Abiram en sy bende begrawe. Onder die bende het vuur gewoed, vlamme het die bose mense verteer. By Horeb het hulle ’n kalf gemaak, en ’n beeld van metaal aanbid. Hulle roemryke God het hulle verruil vir die beeld van ’n bees wat gras vreet. Hulle het God vergeet, hulle redder wat in Egipte groot dinge gedoen het: wonderlike dinge in die land Egipte, ontsagwekkende dade by die Rietsee. Hy het gesê Hy sou hulle vernietig, maar Moses, sy uitverkorene, het vir die volk in die bres getree en gepleit dat God hulle nie in sy toorn vernietig nie. Maar die volk het die vrugbare land verwerp, en nie sy beloftes geglo nie. Hulle het in hulle tente gekla en nie na die Here geluister nie. Daarom het Hy ’n eed afgelê dat Hy hulle in die woestyn sal laat omkom, dat hulle nakomelinge onder die nasies sou sterf, en oor die aarde verstrooi sou word. Maar hulle het Baäl-Peor vereer en geëet van die offers wat aan dooie afgode gewy is. Met hulle dade het hulle Hom getart sodat ’n plaag hulle getref het. Maar Pinehas het tussenbeide getree, en so is die plaag gestuit. Hy is beskou as ’n regverdige man, geslag na geslag, vir altyd. By die waters van Meriba het hulle die Here kwaad gemaak, en so het hulle vir Moses ernstige probleme besorg. Hulle het hom opstandig gemaak sodat hy onbesonne dinge gesê het.” NLV

Boodskap en betekenis

Ses gevalle van die volk se sonde en opstand in die woestyn word genoem waarin die verhale van Eksodus en Numeri veral in herinnering gebring word:

  1. Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn (vgl. Eks. 16; Num. 11), selfs nadat hulle die wonder van die Uittog beleef het, en só in die barre wêreld God se geduld tot die uiterste toe beproef – vers 14;
  2. Hulle het hulle in afguns teen Moses en Aäron as leiers verset en Datan en Abiram het dit ontgeld (Num. 14) – vers 16;
  3. By Horeb het hulle ’n goue kalf gemaak en voor ’n god van metaal gekniel. Hulle het só God, hulle Redder vergeet, en die magtige teenwoordigheid van God verruil vir ’n beeld van ’n bees wat gras vreet (Eks. 32) – vers 19-21;
  4. Hulle het aanvanklik ’n waardevolle land versmaai en die belofte van die Here nie geglo nie, wat verwys na die eerste keer toe die eerste geslag van die Uittog by die land van die belofte gekom het en hulle in hulle tente bly sit en mor het en nie die Here se belofte geglo het dat Hy hulle krag sal gee om die land in te neem nie (Num. 13) – vers 24–25;
  5. Hulle het Baäl–Peor aangehang en die Here uitgetart sodat Hy ’n plaag onder hulle gestuur het (Num. 25) – vers 28–31;
  6. Hulle het die Here se toorn twee keer by die Meribawaters laat ontvlam, met hulle sug na water, sodat selfs Moses die tweede keer tot sy groot verlies gesondig het deur onbesonne dinge te sê. Die eerste keer word vertel in Eksodus 17, en die tweede in Numeri 20 (vgl. Ps. 95:8 wat ook daarna verwys en in Hebreërs 4:1-8 as ‘n waarskuwing ook vir ons vandag uitgelê word) – vers 32-33.

Met al hierdie wonderdade van God het Hy hulle dus gered en gedissiplineer ten spyte van hulle sonde en opstand in die hoop dat hulle Hom sal vertrou en vir sy leiding sal wag en dit dan voluit gehoorsaam.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…