Skip to main content

Psalm 55:1-9

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm word geskryf teen die agtergrond van die verraad van ’n vriend.  Dié vriend word meesal met Dawid se adviseur Agitofel geïdentifiseer wat in die stryd met Absalom teen hom gedraai het (2 Sam. 15-17). Die Here het egter Agitofel se raad verydel waarna Agitofel homself opgehang het in sy tuisdorp, Gilo.  ’n Storie met ’n tragiese einde vir Agitofel, maar ’n positiewe uitkoms vir Dawid met sy uiteindelike oorwinning oor Absalom. Die Psalm kan op verskillende maniere ingedeel word.  Die een wat vir my die meeste sin maak, is een waarin gebed en selfgesprek mekaar afwissel. In die eerste deel wissel Dawid smeking en versugting af.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met snarespel. ’n Gedig van Dawid. Luister na my gebed, o God. Moenie my smeekbede ignoreer nie! Luister, asseblief, en antwoord my, want my moeilikhede gee my nie rus nie. Ek is ontsteld oor die dreiging van my vyande, oor die druk van die goddeloses. Hulle bring ellende oor my, en kweek vyandskap in hulle toorn. My hart pyn binne-in my. Die angs van die dood kom oor my. Vrees en bewing oorweldig my. Ek kan nie ophou bewe nie. Ek het gesê: “As ek maar vlerke het soos ’n duif, dan sal ek wegvlieg en rus hê!” Ek sou ver weg vlieg, ek sou in die woestyn gaan woon. Sela Ek sou my haas om te ontvlug van hierdie stormwind en onweer.” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid bid tot God dat dié sal luister na hom en hom sal antwoord.  Dawid is eerlik teenoor die Here oor wat die dreigemente van sy vyande en die druk van slegte mense aan hom doen.  Hulle onregverdigheid is bedoel om hom te breek, veral omdat hy natuurlik self streef na die handhawing van die reg.  Let op hoe sy hele liggaam reageer op sy gevoel van verontregting – sy hart krimp inmekaar, doodsangs oorval hom, vrees en skrik oorweldig hom, sy hele liggaam bewe. Dan keer hy in homself na ’n selfgsprek waarin hy nadink oor die feit dat hy só graag die storm waarin hy verkeer, wou ontwyk.  Daar is baie keer hierdie ervaring by ons, die bekende veg-of-vlug reaksie.  Hier wil Dawid net op enige manier die situasie ontwyk, wegvlieg soos ’n duif, in die woestyn gaan bly, alles om net weg te kom van die situasie wat soos ’n onstuimige wind, ’n storm, voel. Dit is egter nie die laaste van die Psalm nie. Môre gaan ons verder.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar