Skip to main content

Psalm 113

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks
Psalm 113 is vir my: “Hanna se lied,” die onvrugbare vrou aan wie die Here vir Samuel gegee het (1 Sam. 2). Dit is ook die derde Hallelujalied (Ps. 111-113) wat die volk oproep om die Here in absolute uitbundigheid te loof. Die Psalm roep almal onder die son op om die Here te prys vir sy heerskappy en majesteit (Ps. 113:4-6). God illustreer dit immers in sy genade wat hulpeloses verhef (Ps. 113:7-8) en kinders aan ‘n kinderlose gee (Ps. 113:9). So maak Hy van haar huis ‘n tuiste, en maak van ‘n onvrugbare vrou: “’n gelukkige ma van kinders”! Daarom moet almal die Here prys: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan.” (Ps. 113:1-3). Dit is dan ook die drie dele van die Psalm.

Bid die Psalm

“Prys die Here! Ja, prys Hom, dienaars van die Here. Prys die Naam van die Here! Geseënd is die Naam van die Here, nou en vir altyd. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here geprys word. Die Here is verhewe bo al die nasies; sy heerlikheid is hoër as die hemele. Wie is soos die Here ons God, Hy wat hoog woon? Hy verneder Homself om te kyk na die hemele en op die aarde. Hy verhef die armes uit die stof en die behoeftiges van die ashoop. Hy plaas hulle by die vernames, by vernames van sy eie volk! Die kinderlose vrou in ’n huis maak Hy ’n gelukkige moeder van kinders. Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Die hele wêreld word opgeroep om die Here te prys. Nie net in dié tyd nie, maar vir altyd. Nie net in dié land nie, maar: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan.” Nie net sy diensknegte nie, maar eintlik almal oor wie Hy heers. Want, die Here is hoog bo al die nasies, selfs hoog bó die hemel uit. Daar is niemand so majestueus soos Hy nie. Hy: “moet “afbuk om na die hemel en die aarde te kyk”! Dit is asof die ganse hemelruim en die aarde soos ‘n speelding vir die Here is wat Hy van hoek tot kant met een oogopslag kan raaksien. Dié Here is nie net groots en majestueus nie, maar Hy bekommer Hom oor hulpeloses en behoeftiges en laat hulle van die ashoop af opstaan en by die vooraanstaande mense van die volk sit. Hy hef hulpeloses en behoeftiges dus op vanuit hulle nederige “stof”-bestaan en maak van hulle mense van betekenis. Die Here bekommer Hom ook oor onvrugbare vroue en gee vir hulle kinders sodat hulle huise tuistes word. Só word elke onvrugbare vrou: “‘n gelukkige ma van kinders.” Die verhaal van Hanna is die inspirerende krag agter dié verwysing. Lees haar wonderlike lofgebed in 1 Samuel 2 nadat Eli vir haar gebid en die Here: “aan haar gedink” het en vir haar ‘n seun gegee het. Vgl. ook Jesaja 54:1 wat soos dié Psalm die Here loof vir sy voorsiening (William Carey se moderne sendingbeweging is uit dié profesie gebore!) en Maria se loflied wat verbind word aan Hanna se wonderlike lofgebed: Lukas 1:46–55. Wie weet wat kan met jou gebeur as jy hierdie Psalm bid!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar