Skip to main content

Psalm 87

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In Psalm 87 brei die Koragiete uit op die stelling in die vorige Psalm van Dawid: “Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U neerbuig, Here; hulle sal u Naam verheerlik.” (Ps. 86:9). Hulle visie is dat Sion die sentrum van al die nasies se aanbidding van die Here sal word, ’n droom wat deur verskeie van die profete geëggo word.  Trouens, die Joodse volk word in ballingskap gestuur, omdat hulle nie die droom van die Here wou omarm nie – dit is om ’n blywende ontmoetingsplek vir die nasies met God te wees (Jes. 2:1-5; Miga 4:1-7). Rahab (Egipte) en Babel word genoem, twee plekke waar Israel slawe en ballinge was, sowel as Filistea (kusstreek aan die Middellandse See), Tirus (kusstad in Lebanon noord van Filistea) en Kus (Nubië, suid-oos van Egipte, vandag deel van Ethiopië), wat almal deur die eeue vyande van die Godsvolk was.  “Almal het kinders van Sion geword.” Soos Peterson in The Message vertaal: “I name them off, those among whom I’m famous”! in die register van God se mense – “die boek van die volke” – word elkeen van dié mense uit al die nasies wat God erken, deur Homself opgeskryf.  Hulle word gereken as kinders van Sion – hulle is in sy perspektief daar gebore! Watter wonderlike voorreg! Daar is maar net een manier om op dié voorreg van kindskap te reageer – met sang en fluite word God, die bron van alles, geloof en prys.

Bid die Psalm

“Van die Koragiete. ’n Psalm. ’n Lied. Sy fondament is gevestig op die heilige berg. Die Here het die poorte van Sion lief, meer as enige ander woonplek in Jakob. Wonderlike dinge word van jou gesê, stad van God! Sela Ek sal Egipte en Babel noem onder dié wat My ken; ook Filistea en Tirus en ook Kus – almal het kinders van Sion geword! Dit sal van Sion gesê word: “Dié een en dáárdie een is hier gebore. Die Allerhoogste hou dit in stand.” Wanneer die Here die volke opskryf, sal Hy sê: “Dié een is hier gebore.” Sela Hulle sing en bespeel die fluite: “Die bron van my seëninge is in Sion!”” NLV

Boodskap en betekenis

Die visie op aanbidding in die NT verander aan die een kant van ’n plek na ’n persoon, van Sion na God self, soos Jesus aan die Samaritaanse vrou duidelik maak: “daar kom ’n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid … Daar kom egter ’n tyd en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid … God is Gees en wie Hom aanbid, moet in Gees en waarheid aanbid.” (Joh. 4:21-24). Die universele karakter van dié aanbidders word in die NT ook steeds met groot passie beskryf, net soos in dié Psalm. Hulle kom “uit elke geslag en taal en volk en nasie.” (Openb. 5:9).  Geen wonder die vrou het Jesus op die punt in haar gesprek by die put herken as die Messias nie (Joh. 4:25)! Tog word daar aan die ander kant ook van die hemelse Sionsberg, die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem, gepraat waar God se mense se name in sy boeke opgeteken is (Hebr. 12:22-23; vgl. ook Openb. 14:1-5).  Ook Paulus praat van die hemelse Jerusalem wat ons almal se moeder is (Gal. 4:27).  Kragtige metafore wat hulle oorsprong in die visie van Psalm 87 het. Ek loop dié dag tegemoet met ’n lied in my hart: “Dié een is hier gebore!”  (vers 6). Dit is ook waar van my.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…