Skip to main content

Psalm 86:1-10

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Midde-in die Psalms van die Koragiete vind ons hierdie juweel van ’n Psalm wat aan Dawid toegeskryf word, die enigste Psalm van Dawid in die derde Psalmboek.  Dit word as ’n gebed getipeer, die gebed van iemand wat smeek om God se uitkoms in nood. Die Psalm gee vir ons ’n navolgenswaardige struktuur vir ons smeekbedes: 1) Roep na God in die tyd van jou nood – vers 1-7; 2) Prys Hom vir sy wese en werke – vers 8-10; 3) Verbind jou aan Hom – vers 11-13; 4) Vra van Hom genade en spesifieke uitkomste – vers 14-17. Ons lees dit oor twee dae.

Bid die Psalm

“’n Dawidsgebed. Luister tog na my gebed, Here! Antwoord my, want ek is arm en ellendig. Beskerm my, want ek is getrou aan U. Red my, want ek is u dienaar. U is my God op wie ek vertrou. Wees my genadig, Here, want die hele dag roep ek tot U. Gee tog vir my blydskap, want na U is my verlange, Here. U is waarlik goed, Here, U vergewe. U is vol liefde vir almal wat by U hulp soek. Luister goed na my gebed, Here, gee tog ag op my hulpgeroep. In tye wanneer ek in nood is, sal ek U aanroep, want U sal my antwoord. Daar is nie ’n god soos U nie, Here. Niemand kan u werke naboots nie. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U neerbuig, Here; hulle sal u Naam verheerlik. Want U is groot en doen wonderdade. U alleen is God.” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid twyfel nie dat God kan hoor nie, maar wil graag hê dat God na hóm sal luister, dat Hy sý gebed sal verhoor. Let op hoe hy as motivering aan die eenkant sy getrouheid noem, dat hy die Here se “dienaar” is.  Daarom vra hy dat God hom sal beskerm en red, hom genadig sal wees en vreugde sal verskaf. Aan die ander kant bely hy ook dat die diepste motivering geleë is in God se goedheid wat altyd weer vergewe. Die herinnering aan God se goedheid, vergewensgesindheid en troue liefde laat hom dan fokus op Wie God is en Wat God doen.  Daar is niemand soos die Here nie en niks kan met sy werke vergelyk word nie. Onder sy werke tel die feit dat Hy die nasies gemaak het om Hom te dien en onder sy wese tel die feit dat Hy alleen God is, dat sy Naam – sy teenwoordigheid – groot is en eer verdien.  Daarom sal die nasies Hom dien en aan Hom eer gee.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar