Skip to main content

Psalm 66:1-12

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm moedig ons aan om God se dade vir almal te vertel, want God se werke is oral sigbaar. Let op dat vers 1-12 in die meervoud geskryf is – ons – en vers 13-20 in die enkelvoud – ek, wat dan ook die verdeling van die Psalm is wat ons oor twee dae gaan bid. Die wisseling van meervoud na enkelvoud getuig van ’n wisselwerking tussen die verhale van die geloofsgemeenskap en dié van ’n lid/leier van daardie gemeenskap, wat ons ’n goeie voorbeeld gee van wat ons in ons byeenkomste moet doen.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Lied. ’n Psalm. Almal op aarde, juig tot eer van God! Sing tot eer van sy Naam! Gee Hom eer en lof. Sê vir God: “Hoe ontsagwekkend is u werke! U vyande kruip voor u groot mag. Almal op die aarde sal U aanbid; hulle moet sing tot u eer en lofsing tot eer van u Naam.” Sela Kom en kyk wat God gedoen het, sy magtige dade met die mensdom! Die see het Hy verander in ’n droë pad, droogvoets het hulle deur die rivier gegaan. Kom, laat ons jubel oor Hom, Hy wat vir altyd deur sy groot mag regeer. Sy oë is gerig op die nasies. Laat geen opstandeling homself verhef nie. Sela Alle volke, prys ons God en laat sy lof weerklink. Ons lewe, dié hou Hy in stand, ons voete laat Hy nie struikel nie. U het ons beproef, o God, soos silwer ons gesuiwer. U het ons met ’n net gevang, ’n sware las op ons geplaas. U het mense oor ons laat ry, ons deur vuur en vloed laat gaan, en tog gebring waar daar oorvloed is.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm is ‘n Psalm vir die nasies. Hulle word opgeroep om die Here te prys, want sy werke is vir almal sigbaar in die magtige dade van die Uittog uit Egipte waar die Here sy volk droogvoets deur die Rooi See laat gaan het sowel as met die Intog in Kanaän waar Hy hulle droogvoets deur die (Jordaan) rivier laat trek het. Die nasies moet weet dat God regeer en dat niks sy oë ontglip nie. Die Psalmis erken wel in sy lofprysing dat beproewings deel van die lewe saam met God is. Dit is nie net as gevolg van sonde en swakheid, soos dit in die Rigterstyd die geval was nie. Dit kom ook oor ons weens God se oorhoofse suiweringsdoel daarmee: “U het ons beproef, o God, soos silwer ons gesuiwer.” Maar, daarvan kan die geloofsgemeenskap getuig, die uiteinde daarvan is die belewenis van sy oorvloed.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar