Skip to main content

Psalm 53

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 14 en 53 het basies dieselfde inhoud, met ’n paar verskille (wat jy by bybelskool.com kan nagaan as jy belangstel). Waar Psalm 14 in die 1ste Psalmboek vyf klaagliedere (Ps. 9-13) afsluit met die boodskap dat om sonder God te probeer leef, dwaas is, sluit Psalm 53 in die 2de Psalmboek vyf wysheidsPsalms af met dieselfde boodskap. Psalm 53 is in twee dele opgedeel: 1) Dit is dwaas om sonder God te leef. Dit geld privaat individue en publieke instellings. 2) God red sy mense van dwase. God nooi ons daarmee uit om ons toevlug tot Hom te neem in vertroue op sy redding en die verandering van ons lot. Ons sal juig en bly wees – en in God se teenwoordigheid tot ons reg kom – veral deurdat Hy die dwase sal teenstaan en vernietig.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met fluitspel. ’n Gedig van Dawid. Net ’n dwaas sê in sy hart: “Daar is geen God nie.” Hulle is bedorwe en hulle dade is boos. Niemand doen iets wat goed is nie! God kyk neer vanuit die hemel oor die hele mensegeslag om te sien of daar één is wat verstandig is, één is wat God dien. Maar nee! Almal het weggedraai; almal het bedorwe geword. Niemand doen wat goed is nie, nie eens één nie! Sal die boosdoeners nooit leer nie? Hulle verorber my volk soos brood. Hulle weier om God te dien. Angs sal hulle daar beetpak, skrik soos nooit tevore nie. Die beendere van julle aanvallers sal God verstrooi. Julle sal hulle tot skande bring, want God het hulle verwerp. Mag uit Sion redding kom vir Israel! Wanneer God sy volk herstel, sal Jakob jubel, sal Israel bly wees.” NLV

Boodskap en betekenis

Om dwaas te wees word in dié Psalm uit God se perspektief beskryf, nie uit die menslike nie.  Dit is immers Hy wat hulle as dwaas beskou.  ‘n Dwaas is dus veral iemand wat lewe sonder om na God te luister om van Hom leiding te ontvang om sy of haar lewe te kan rig en laat begelei.  ‘n Wyse is iemand wie se lewe juis draai om die luister na God en die vertroue op die pad waarop Hy sy of haar lewe begelei. Wyses se lewens word daarenteen gekenmerk deur ‘n toevlug neem tot God en ‘n vertroue op Sy redding en lotsverandering.  Hulle sal juig en bly wees – en in God se teenwoordigheid tot hulle regkom, veral deurdat Hy die dwase sal teenstaan en vernietig. Ons moet egter nie te gou die dwase in ons omgewing soek nie.  Die Psalm is duidelik daaroor dat dwaasheid eintlik ‘n algemene kenmerk van die mensdom is, en dat dit ook vir ons insluit.  Dit is waarom Paulus uit hierdie verse aanhaal in Romeine 3 en die evangelie van Jesus Christus as ‘n weg uit die dwaasheid verkondig en spesifiek sê dat God deur sy Gees sy liefde in ons harte uitgestort het (Rom. 5), om ons dwaasheid in liefde te verander. Kragtig!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar