Skip to main content

Psalm 71:1-8

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalmis getuig hier van die voordeel om God se betroubaarheid oor ’n baie lang tyd in die verlede te kon ervaar.  Dit bring ’n sekerheid en vertroue wat nie so maklik deur die negatiewe ervaringe van die lewe beïnvloed word nie.  Drie van die sentrale metafore wat die Psalmis gebruik om dié Godsbeeld mee uit te druk, is dié van ’n rots, ’n toevlug, en ’n vesting wat verband hou met die gebruik in antieke tye om asiel te soek in ’n heiligdom (Eks. 21:13). God is, soos sy heiligdom, as’t ware die veilige ruimte waar van die aanslae van die lewe geskuil kan word. Die Psalm kan in drie dele opgedeel word wat losweg met verlede, hede en toekoms verband hou: 1) Wees vir my ’n rots om na toe te vlug, soos altyd in die verlede – vers 1-8; 2) Moet my tog nie in die hede verwerp nou dat ek oud geword het nie – vers 9-16; 3) Moet my tog nie alleen laat nie, ter wille van die geslagte wat kom in die toekoms – vers 17-24. Ons lees dit oor drie dae.

Bid die Psalm

“Here, by U soek ek beskerming; laat my nooit beskaamd staan nie. Red my en verlos my, want by U is regverdigheid. Luister na my en maak my vry. Wees vir my ’n rots en ’n toevlug, ’n plek waarheen ek altyd kan vlug. U het reeds my redding bepaal, want U is my rots en my vesting. My God, red my uit die mag van goddeloses, uit die kloue van mense wat wreed en onregverdig is, want U, Here, is my hoop. Here, van kleins af het ek op U vertrou. U is my hulp vanaf geboorte; reeds voor geboorte het U vir my gesorg. Dis waarom ek U gedurig prys. Ek is ’n wonder vir baie, want U is my sterke toevlug. Ek hou aan om U te prys; die hele dag sing ek oor u heerlikheid.” NLV

Boodskap en betekenis

Elke frase in hierdie eerste deel van die Psalm is vir jou gegee om te vertroetel. Jy kan die woorde daarvan in jou gedagtes soos ’n suiglekker in jou mond rondrol tot jy die waarde daarvan diep in jou menswees begin ervaar. “U het reeds my redding bepaal.” D.w.s. jou verlossing hang nie af van wat jy kan doen nie, maar van wat God kan doen. “Wees vir my ’n rots en ’n toevlug, ’n plek waarheen ek altyd kan vlug.” D.w.s, ’n plek, reg deur die dag waarheen jy in jou gees, in gebed, jou toevlug kan neem. Dit is daardie plek waar jy voor God verskyn en vir verlossing van jou vyande vra, en inderdaad telkens weer van kan getuig. En in enige geloofsgemeenskap moet hierdie ervarings van verlossing uit die verlede wat gekoester en versprei word, ter wille van die behoud van die gemeenskap. Dit is die tipe verhale wat geloofsvertroue bewerk. Sorg daarom dat jy ook jou ervarings van verlossing aangee na veral jongmense. Dit is hulle behoud!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar