Skip to main content

Psalm 65

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm is ’n lofsang aan God vir al sy oorvloedige gawes. Let op hoe die teenwoordigheid en betrokkenheid van God in konsentriese geografiese sirkels beskryf word, wat ook die wyse is waarop die Psalm opgebou is. 1) God seën die geloofsgemeenskap in Sion – vers 2-6a. Die hart van God se seën word eerstens persoonlik en in die geloofsgemeenskap in Sion by die tempel in Jerusalem ervaar (vers 2-6a). God verhoor gebede, spreek vry van skuld en laat sy mense die goeie dinge in sy huis in oorvloed geniet. In Sy trou antwoord Hy met kragtige dade. Hy is immers God, ons Verlosser. Aan dié God kom ’n lofsang toe in Sion. Maar let ook op dat dié vergifnis vir alle mense bedoel is, soos vers 3-4 aandui. Dit is ’n baie belangrike stuk hoop in die Psalm. 2) God seën die mense in afgeleë plekke en op verre seë – vers 6b-9. Tweedens het God se seën ook ’n uitkringende kragtige uitwerking op alle mense en nasies selfs op afgeleë plekke en op verre seë. Die God en sy mag dwing ontsag af, want Hy kan vir gebedsverhoring in alle situasies vertrou word. Hy laat selfs die rumoer van die nasies bedaar. Mense in die ooste en in die weste juig oor God. 3) God seën die hele aarde – vers 10-14. Derdens bring God se sorg oorvloed en vrugbaarheid vir die hele aarde – die land, die riviere, die ploeglande, die woestyn, die bulte, die velde en die vlaktes (vers 10-14). Daar is volop water, welige koring, genoeg reën, welige groei, volop weiding selfs in die woestyn en wemelende kleinvee. God kroon die jaar met sy goeie gawes. Waar God ook al gaan, is daar oorvloed! Dit is die evangelie van dié Psalm. Trouens, alles is Sy werk!

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. ’n Lied. O God, lof kom U toe in Sion. Ons geloftes sal ons betaal. O Hoorder van gebed, na U toe sal alle mense kom. Wanneer sondige dade my oorweldig, vergewe dan tog my opstandigheid. Geseënd is dié vir wie U uitkies, hulle wat U laat naderkom en in u tempel laat woon. Mag ons oorlaai word met die goedheid van u huis, in u heilige tempel. God ons verlosser, U antwoord ons met magtige dade en in geregtigheid. Tot aan die einde van die aarde en vanaf die verste seë hoop mense op U. Deur u krag is die berge gevorm; Uself is met mag omgord. U bedaar die gedruis van die see, die dreuning van die golwe, en die rumoer van die nasies. Mense in afgeleë plekke kry ontsag vir u wonders. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, laat U hulle sing van vreugde. U versorg die aarde, en laat dit reën, U maak dit ryk en vrugbaar. Die riviere van God is vol water; U verskaf graan soos U bepaal het. U vul die leivore met water, en deurweek die kluite; U laat hulle sag word van reën en laat alles welig groei. U kroon die jaar met u goeie gawes; in u spore volg daar oorvloed. Die woestyn word ’n weiland, die heuwels is oordek met vreugde. Die weivelde wemel van kleinvee, en die valleie is oordek met graan. Hulle juig en sing van vreugde!” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm is ’n lofsang aan God vir al sy oorvloedige gawes. Dit sluit sy gebedsverhoring en vryspraak van skuld vir alle mense in, ook die oorvloed van die goeie dinge wat Hy gee vir die geloofsgemeenskap, dié wat Hy uitkies om nader te kom om sy teenwoordigheid by die tempel te geniet asook die kragtige dade wat Hy regoor die wêreld vir almal en alles doen. Hy is nie net God ons Verlosser nie, maar die God van alle mense selfs in afgeleë lande, trouens die God van die hele bewerkte en onbewerkte aarde.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda