Skip to main content

Psalm 73:1-14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 73 is die eerste van elf Psalms wat aan Asaf – een van die sangleiers wat Dawid aangestel het om die sangerstradisie in Israel te begin – toegeskryf word (Ps. 50 is ook van Asaf). Dit is ook die Psalm wat die 3de Psalmboek inlei (Ps. 73-89). Anders as Psalm 1 wat die 1ste Psalmboek inlei met die boodskap van die voorspoed van die regverdiges, worstel Asaf met die realiteit dat dit baie keer van die mens se kant lyk asof die goddeloses die eintlike voorspoediges is. Dit is eers wanneer hy uit God se hoek kyk – as hy in die heiligdom ingaan – dat hy agterkom dat dit net oënskynlik waar is; dat die goddelose tog uiteindelik omkom en dat die gemeenskap met God die ware geluk gee wat alle ander realiteite verdwerg. Die Psalm is duidelik gestruktureer as ‘n eenheid veral met die eerste en laaste vers wat van die goedheid van God en sy teenwoordigheid praat wat die boodskap van die Psalm omraam. Ons lees dit egter in twee dele met die worsteling as eerste lesing (vers 1-14) en die wending as tweede lesing (vers 15-28).

Bid die Psalm

“’n Asafpsalm. Waarlik, God is goed vir Israel, vir hulle wat suiwer van hart is. Maar my voet het byna gestruikel. Ek het my vastrapplek byna verloor. Want ek het die verwaandes beny, die goddeloses se voorspoed het ek gesien. Hulle het geen lyding nie, en is vet en gesond. Hulle het nie sorge soos sterflinge, of teëspoed soos ander mense nie. Daarom is trots hulle halssnoer; geweld is vir hulle soos ’n kleed. Hulle uiterlike spel net voorspoed; hulle verwaandheid is grensloos. Hulle spot en praat net kwaad; hooghartig dreig hulle met geweld. Hulle lippe laster teen die hemel en hulle tonge spog op die aarde. So draai sy volk na hulle toe, en neem alles in wat hulle sê. “Besef God wat aangaan?” vra hulle. “Weet die Allerhoogste wat gebeur?” Kyk, so is goddelose mense: altyd sorgvry, besig om rykdom te vermeerder. Het ek dan tevergeefs die kwaad vermy, en my onskuld met ’n eed bevestig? Die hele dag lank moes ek ly, elke oggend is ek opnuut gestraf.” NLV

Betekenis en boodskap

Psalm 73 is ongelooflik relevant vir almal wat die pad met die Here onwrikbaar wil stap, maar aan allerlei beproewinge in die lewe en uitdagings en versoekings van binne en buite blootgestel word. As ‘n mens met ‘n korttermyn perspektief na jou lewensloop kyk, sal jy ook kan dink dat dit oënskynlik niks help om jou hart rein/suiwer te hou nie, want op die oog af beleef verwaande hooghartige goddelose mense, mense wat God laster en misken, voorspoed in hierdie lewe en nie teëspoed nie. Hoe werk dit dan dat Jesus, in lyn met hierdie Psalm, stellig met die sesde saligspreking in die Bergrede kan verklaar dat reinheid van hart jou in God se teenwoordigheid sal bring: “Geseënd is dié wat rein/suiwer van hart is, want hulle sal God sien.” (Matt. 5:8)? Wanneer jy kortsigtig na die relatiewe voorspoed van goddelose kyk, sal jy maklik God se regverdigheid kan bevraagteken en Jesus se verklaring as ‘n onhaalbare ideaal kan beskou. Maar, let op, dat Asaf sê, hy het “byna” sy vastrapplek verloor… want in die tweede helfte van die Psalm sal hy met ons deel wat hom weer laat vasstaan het in sy verbintenis aan die Here. En dit is die langtermyn perspektief wat vir hom vasbyt en vastrap gebring het, want God beheer nie net die begin van ons lewe nie, maar ook, en veral die einde daarvan.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar