Skip to main content

Psalm 105:37-45

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Uittog uit Egipte word daarna beskryf met ’n paar uitsoek aspekte van dié proses – die goud en silwer, die begeleidende wolk en vuur, die kwartels en manna, die water uit die rots – sonder om te vertoef by die uitdaging wat die volk aan die Here in die woestyn gestel het. Die Here se waarmaking van die belofte aan Abraham, sy dienskneg, word eerder in herinnering geroep met die vreugde wat Hy aan sy volk, sy uitverkorenes, verskaf het. Hy het aan hulle die land van ander volke gegee, sodat hulle nie net ’n ruimte kan hê om in te floreer nie, maar “sodat hulle sy gebooie sou onderhou en sy voorskrifte sou gehoorsaam.”

Bid die Psalm

“Toe het Hy Israel uit Egipte uitgelei, oorlaai met silwer en goud. Niemand in die stamme het gestrompel nie. Egipte was bly toe hulle getrek het, want hulle was almal baie bang vir hulle. Die Here het as bedekking ’n wolk oor hulle uitgesprei, en vuur om die nag te verlig. Hulle het kos gevra, en Hy het kwartels gestuur; met brood uit die hemel het Hy hulle versadig. Hy het ’n rots gekloof, en water het uitgestroom, ’n rivier het in dorre plekke gevloei. Hy het inderdaad sy heilige belofte aan Abraham sy dienaar onthou. Hy het sy volk met vreugde gelei, sy uitverkorenes uitgelei met gejuig. Die lande van nasies het Hy aan hulle gegee, en wat ander geplant het, het hulle geoes sodat hulle sy gebooie sou onderhou en sy voorskrifte sou gehoorsaam. Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Soos met die res van die 4de Psalmboek, fokus Psalm 105 op die feit dat Jahwe reg deur die eeue getrou gebly het aan sy verbond met die volk van Israel. Dit is ook ’n boodskap wat die nasies betrek. Soos God getrou was aan die aartsvaders in Kanaän só was Hy dit aan die volk in Egipte. Hy het sy verbond nagekom en hulle verlos uit hulle verdrukking en weer gevestig in die land van die belofte, Israel–Kanaän. Die implikasie is dat God presies dieselfde sal doen vir enigiemand wat Hom ernstig neem en hulle op sy troue liefde verlaat, selfs dié nasies wat hulle aan die verkeerde kant van die impak van die verlossing en vestiging van Israel bevind het. Waar met God gewaag word, word jy ingetrek in ’n verhouding met Hom (verbond) en kan jy staatmaak daarop dat ook jy ’n gesalfde (geroepene) en profeet (bekend met God se wil) word wat op God se verlossing, versorging en vestiging kan staatmaak. Dan sal jy ook sy voorskrifte wil en kan nakom. Almal moet dít hoor.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar