Skip to main content

Psalm 107:23-32

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die vierde situasie waarop Psalm 107 fokus is seevaarders wat op die see in die nood kom, en magteloos deur die stormwind en golwe heen en weer geslinger word, en dan ervaar dat God hulle na veiligheid begelei, as hulle hom aanroep. ‘n Mens hoor hier eggo’s van wat die matrose in die verhaal van die profeet Jona ervaar het. God het ook hulle na veiligheid en vryheid gelei.

Bid die Psalm

“Sommige mense het met skepe op die see gevaar, en op die groot oseane handel gedryf. Hulle het die Here se werk gesien, sy wonderdade op die diepsee. Hy praat, en die stormwinde steek op, en die golwe word al hoër. Die skepe is hemelwaarts geslinger en het dan weer dieptes toe getuimel. Die matrose, radeloos van vrees, het net soos dronkaards getol en gewaggel, en al hulle kennis was tevergeefs. “Here, help ons!” het hulle geroep in hulle nood, en Hy het hulle uit al hulle ellende gered. Hy het die storm stilgemaak en die golwe het bedaar. Hulle was bly toe dit kalm word en Hy hulle na die hawe toe lei waar hulle wou wees. Laat hulle die Here loof vir sy liefde en vir al sy wonderdade aan hulle. Laat hulle Hom verheerlik in die vergadering van die volk, en Hom prys in die byeenkoms van die leiers.” NLV

Boodskap en betekenis

Waar God ‘n mensestem hoor roep, dáár luister Hy, maak die stormwind stil en gee kalmte. Jare later sou Jesus dit konkreet illustreer vir sy eie dissipels (Mrk. 4:30-41). Ook Paulus sou dit ervaar dat God IN die storm bewaring skenk (Hand. 27). So kan ons Hom ook vertrou, want Hy is goed en getrou.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar