Skip to main content

Psalm 3

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Sommige geleerdes dink dat die omstandighede van Psalm 3 en 4 dieselfde is – die tragiese verhaal van Dawid se vlug voor sy geliefde seun Absalom. Dawid sou dan Psalm 4 die aand na sy vlug uit Jerusalem kon gebid het (vgl. Ps. 4:9 – “nou sal ek onbesorg gaan lê”) en Psalm 3 die volgende oggend (vgl. Ps. 3:6 – “ek word ook weer wakker”). Ander stel voor dat ’n mens in Psalm 4 eerder moet dink aan die ervaring van swak– of misoeste, moontlik weens droogte, na aanleiding van vers 8 wat ’n skerp kontras trek tussen Dawid se situasie en die mense wat koring en wyn in oorvloed het.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm toe hy voor sy seun Absalom gevlug het. O Here, ek het so baie vyande; so baie kom teen my in opstand. So baie sê: “God sal hom nooit red nie!” Sela Maar U, Here, is ’n skild rondom my. U herstel my eer, U lig my kop weer op. Ek het tot die Here geroep. Vanaf sy heilige berg het Hy my geantwoord. Sela Ek het gaan lê en slaap en weer wakker geword, want die Here het oor my waggehou. Ek is nie bang vir tienduisende mense wat my van alle kante bedreig nie. Sela Staan op, Here! Bevry my tog, my God! U het al my vyande op die kakebeen geslaan, die tande van die goddeloses het U gebreek! Verlossing kom van U, Here. Mag u seëninge op u volk rus. Sela” NLV

Boodskap en betekenis

Ek dink ’n belangrike perspektief vir hierdie Psalm, is dat ’n mens dié Psalm kan bid, selfs al is jy medeverantwoordelik vir die negatiewe dinge wat in jou lewe gebeur. Die Here luister na dié wat in Hom glo en sy teenwoordigheid opsoek, ongeag met watter geskiedenis hulle by Hom opdaag! Dis wat die hele ongelukkige geskiedenis tussen Dawid en Absalom ons leer (vgl. 2 Sam 11-13). Gebruik die Psalm as jou gebed vir God se beskerming en voorsiening teen jou vyande.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar