Skip to main content

Psalm 98

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 98 toon groot ooreenkomste met Psalm 96. Dieselfde tipe struktuur en grotendeels dieselfde inhoud word gebruik: Al die nasies van die aarde word opgeroep tot lof aan die Here; Dit sluit die skepping in; Die rede daarvoor is dat die Here oor die wêreld kom heers met regverdigheid en billikheid. Daar is egter ook ’n hele paar duidelike verskille. Byvoorbeeld: In die eerste 6 verse is dit God wat oor Homself getuig, eerder as die volk; In die laaste verse kom God se Heerskappy meer na vore, en nie soseer sy Regterskap nie. Die Psalm is ook in twee dele verdeel: 1) Sing tot eer van die God wat wonderdade doen – vers 1–6; 2) Juig voor die Here, want Hy kom om met regverdigheid en billikheid te heers – vers 7–9.

Bid die Psalm

“Sing vir die Here ’n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen. Hy het verlossing bewerk met sy krag en Goddelike mag. Die Here het sy redding aangekondig. Voor die oë van die nasies het Hy sy regverdigheid getoon. Hy het sy liefde en trou teenoor die huis van Israel onthou. Ons God se redding was sigbaar tot aan die uithoeke van die aarde. Laat die hele aarde die Here loof. Breek uit in sang, sing van vreugde! Bring lof aan die Here met die lier, met lier en met sang, met trompette en ramshoring. Juig tot eer van die Here, die Koning. Die see en alles daarin moet druis, die wêreld en almal wat daarin woon. Die riviere moet hande klap, die berge moet jubel voor die Here. Want Hy kom om die aarde te oordeel. Hy sal die wêreld regverdig oordeel, en die volke met billikheid.” NLV

Boodskap en betekenis

God se krag en Goddelike mag staan voorop in dié Psalm. Wat interessant is, is dat Hy ook voorop staan in die bekendmaking van sy oorwinnings en dat Hy sy reddingsdade openbaar maak. Dié reddingsdade is ’n bewys van sy liefde en trou wat Hy telkens aan sy mense bevestig as ’n getuienis aan die hele wêreld. Dit is ’n baie belangrike insig. Getuienis is primêr die werk van God self. Hy is die een wat Homself aan mense openbaar. Ons is altyd sekondêre getuies wat praat oor wat God alreeds besig was om te doen. Daarom is ons getuienis altyd ’n proses van aansluit by wat God alreeds gedoen het of besig is om te doen. Dit beteken natuurlik dat lofprysing ook getuienis is. Dit beteken verder dat ons primêre taak eintlik is om bewus te word van wat God doen, Hom daarvoor te loof, en daarby aan te sluit deur ander daarvan te vertel. Lofprysing moet dus met oorgawe gedoen word, met die begeleiding van die lier, met sang, en met die blaas van trompette en die ramshoring (die shophar – gebruik as aankondiging van God se teenwoordigheid – vgl. Eks 19:16). Kortom, enige instrument wat ons kan help om die Here te loof. By hierdie lofprysing moet die stemme van die hele skepping gevoeg word om die Here te loof en prys, om saam voor die Here te juig, Hoekom? Want, Hy is op pad om sy heerskappy te vestig sodat daar regverdigheid en billikheid op aarde sal wees vir almal.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…