Skip to main content

Psalm 2:1-6

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 2 word deur Lukas aan Dawid toegeskryf in Handelinge 4:25. Hy haal ook daaruit aan, en noem dit die tweede Psalm (Hand. 13:33). Die Psalm is soos Psalm 1 ook ’n inleiding tot die hele Psalmboek wat fokus op God se heerskappy oor alles en almal, veral die nasies en hulle konings. Psalm 1 en 2 is daarom die fondament waarop die hele Psalmboek gebou is. Waar Psalm 1 ons help om te verstaan dat vreugde en voorspoed by die Here en in sy gemeenskap te vinde is, help Psalm 2 ons om te verstaan dat hierdie God almagtig is. Hy is aktief op die wêreldtoneel van volke, nasies, konings en leiers.

Bid die Psalm

“Hoekom gaan die nasies so tekere, en bedink die volke nuttelose planne? Die konings van die aarde het saamgesweer; die heersers span saam teen die Here en sy gesalfde. Hulle sê: “Laat ons hulle kettings stukkend breek, onsself bevry van hulle slawebande.” Maar Hy wat vanuit die hemel heers, lag oor hulle. Die Here spot met hulle. In sy toorn praat Hy met hulle, en in sy woede verskrik Hy hulle: “Ek het hom op Sion, my heilige berg, as my koning aangestel.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm gee jou die moed om God te vertrou om in die wispelturigheid van die (internasionale) politieke wêreld van ons gemeenskappe rigting te bring, en by Hom skuiling te soek, beide in jou persoonlike lewe as in die publieke deel daarvan. Dit het die eerste gemeente goed verstaan en op grond van Psalm 2:1-2 in hulle gebed gevra: “dat ons, u diensknegte, u woord met waagmoed sal verkondig. Steek u hand uit en bewerk genesing, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” (Hand. 4:29-30 NLV). Na die gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle kon God se boodskap onverskrokke verkondig. Dink hieroor na en bid dat die Here sy mag ook in jou eie omstandighede deur sy Gees sal bevestig.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar