Skip to main content

Psalm 29

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 29 besing die Skepperkoning se stem soos dit in die natuur met ’n donderstorm gehoor kan word en krag gee in die lewe van sy volk en hulle seën met oorvloed. In die lig van die omringende twee Psalms (28 en 30) antwoord dié Psalm dus onomwonde, dat God nie stil is nie, maar van Hom laat hoor! God se stem word hier met ’n aantal natuurverskynsels in donderstorms vergelyk om daarmee die inherente en allesveranderende krag van God oor te dra. Teenoor die Kanaänitiese opvatting dat Baäl reën gee, bely die Psalm dat dit Jahwe is wat reën gee en dat onweer nie bloot dié van ’n groot natuurkrag of die stem van Baäl is nie, maar eerder die stem van die Here, wat ook op simboliese wyse die krag en oorvloed wat Hy vir sy volk gee, illustreer. Daarmee word die suigkrag van die Baälgodsdiens vir die geloofsgemeenskap op doeltreffende teologiese wyse getroef.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Vereer die Here, julle hemelwesens! Vereer die Here vir sy grootheid en krag! Verheerlik die Here oor die heerlikheid van sy Naam! Dien die Here in die grootsheid van sy heiligheid. Die stem van die Here weerklink oor die waters. Die God van heerlikheid donder. Die Here is op die magtige waters. Die stem van die Here is magtig. Die stem van die Here is vol majesteit. Die stem van die Here breek seders. Die Here versplinter die seders van die Libanon. Hy laat die Libanon bokspring soos ’n kalf en die Sirjon soos ’n jong bees. Die stem van die Here tref met weerligstrale. Die stem van die Here laat die woestyn bewe. Die Here laat die Kadeswoestyn bewe. Die stem van die Here laat die ooie lam en stroop die bosse kaal. In sy tempel sê almal: “Heerlikheid!” Die Here regeer oor die watervloed. Die Here heers as koning vir altyd. Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede.” NLV

Boodskap en betekenis

’n Mens kan dink, selfs al doen jy baie moeite om die Bybel daagliks te lees, dat God se stem net soos ’n bandopname is. Psalm 29 herinner ons dat die stem van die Here nie maar net ’n opname uit die verre verlede is nie, maar ’n lewendige uitsending, wat hier en nou effektief is. Dat Jesus op die see ook juis die storm stilmaak (Mark 4:35-41), het in die lig van dié Psalm ‘n besondere betekenis. Dit draai enige idee dat God met die natuur gelyk gestel kan word, die nek om en stel dit duidelik dat God ook in die stilmaak van ‘n storm teenwoordig is, soos natuurlik ook al in 1 Konings 19:12 gesê is, dat God in: “’n fluistering in die windstilte” was. Hy regeer oor alles en vir altyd. En dit is Hy wat krag aan ons gee en ons seën met vrede.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar