Skip to main content

Psalm 8

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 8 is ‘n loflied aan die Skepper wat in enige situasie gesing kan word. Dit laat jou nadink oor jou nietigheid en jou waardigheid, God se grootheid en sy sorg. Daarsonder kan jy nie sin en betekenis in jou lewe ervaar nie.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met snaarinstrumente. ’n Dawidspsalm. Here, ons Here, hoe vol majesteit is u Naam op die hele aarde! U heerlikheid is hoër as die hemele. Kinders en babas besing u lof, want U het dié wat sterk is, bestraf, vyand en wreker stilgemaak. Wanneer ek opkyk na die naghemel en ek sien die werke van u vingers, die maan en sterre wat U in hulle plekke geplaas het, wat is die mens dat U aan hom dink, die mensdom dat U vir hulle omgee? U het hom ’n bietjie minder gemaak as hemelse wesens, en hom gekroon met roem en eer. U het hom in beheer gestel van alles wat u hande gemaak het. U het vir hom mag gegee oor alle dinge: skape en beeste, alles, en ook die wilde diere van die veld, die voëls in die lug, die visse in die see, en alles wat swem deur die seestrome. Here, ons God, hoe vol majesteit is u Naam oor die hele aarde!” NLV

Boodskap en betekenis

Alles wat God gemaak het, is onder die koninklike voete van die mens gestel. ‘n Mens hoor hier dus onmiskenbaar die parallel met Genesis 1:26. God het ons as Imago Dei, as sy beeld gemaak, as sy gelykenis. Geen ander wese het daardie hoë status nie, nie die engele nie, nie die serafs nie, nie enige lewende wese nie. Maar die kontras tussen die nietigheid van die mens en sy waardigheid beteken dat die grootheid in nietigheid bestaan, presies soos dit van Christus geskrywe word, dat Hy Homself ontledig het, die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het, nietig en klein geword het… en dat God Hom uitermate verhoog het, groot gemaak het, selfs groter as wat Hy was voor sy menswording (Fil. 2:5-11). Dit is waarom die Hosannas van die kinders vir Jesus so kosbaar was, want hulle het die waarheid van Psalm 8 in Hom raakgesien (vgl. Matt. 21:6 waar Jesus uit Psalm 8 aanhaal). Dit is ook waarom beide die Hebreërskrywer en Paulus Psalm 8 gebruik om ons verhewe posisie in die nuwe bedeling aan Jesus se verhoging te koppel. (Hebr. 2:6-8; 1 Kor. 15:27). Wy jouself in verwondering aan hierdie God toe.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar