Skip to main content

Psalm 49:1-14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie is die laaste Psalm van die Koragiete in die 2de Psalmboek.  Dit is ook die 1ste van ’n reeks van 5 wysheid Psalms. Die fokus van hierdie Psalm word in vers 5 gegee. In die eerste deel van die Psalm wil die Koragiete die raaisel van die vrees vir rykes verklaar, want dit is dwaasheid om rykes te vrees, of om op rykdom te vertrou: “Niemand kan ooit genoeg betaal sodat hy vir altyd sal lewe en die dood nie sal sien nie.” Rykes se voorspoed is immers nie in hulle eie hande nie. So ook nie die ewige lewe nie. Die enigste hoop vir die ewige lewe lê in God opgesluit wat ’n mens van die mag van die dood kan verlos. Daarom hoef, trouens, mag gelowiges nie vir rykes bang wees of hulle rykdom beny nie.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Van die Koragiete. ’n Psalm. Luister hierna, al julle volke! Gee ag, al julle bewoners van die wêreld: eenvoudiges en mense van aansien, dié wat ryk is en dié wat arm is! My mond sal wyse woorde praat, my gedagtes sal getuig van insig. Ek sal luister na spreuke en raaisels oplos by die speel van die lier. Waarom sal ek bang wees in tye van nood, wanneer bose bedrieërs my omsingel, hulle wat vertrou op hulle welvaart, wat spog met hulle rykdom? Geen mens kan enigsins ’n ander loskoop deur ’n losprys aan God te gee nie. Die redding van ’n mens is te duur. Niemand kan ooit genoeg betaal sodat hy vir altyd sal lewe en die dood nie sal sien nie. Almal kan sien: Wyse mense sterf, ook die dwaas en die stommerik, en laat hulle rykdom agter vir ander. Hulle graf is hulle tuiste vir altyd. Daar sal hulle bly van geslag tot geslag, selfs al het hulle die grond na hulleself vernoem. Die mens in weelde leef nie vir altyd nie, maar sterf self net soos die diere. Dit is die lot van dwase mense, en dié wat hulle woorde beaam. Sela” NLV

Boodskap en betekenis

Die lewe moet in ’n noue verhouding met God geleef word, deur Hom te erken en in ag te neem in alles. Hy het totale mag oor lewe en dood. Soortgelyke gedagtes word in Job 21 uitgespreek oor hierdie verskynsel van die rykes wat God nie wil ken nie en moet uitvind, “hulle voorspoed is nie in hulle eie hande nie” (vers 16). Ook Psalm 73 sal in die 3de Psalmboek soortgelyke gedagtes kwytraak. Só leer Jesus ons ons in die NT ook. Dink aan die gelykenis van die ryk dwaas waar die ryk man nie ook ryk in God was nie en in sy dwaasheid rykdom opgegaar het vir die toekoms, maar uiteindelik niks daarvan kon geniet nie (Luk. 12:13-21). Vergelyk ook die ontstellende en tragiese verhaal van die ryk jongman wat die kans van sy lewe mis om ‘n dissipel van Jesus te word, omdat hy te verknog was aan sy besittings (Matt. 19:16-30).  Sowel as die bekende verhaal van Lasarus en die ryk man, waar die ryk man nie tyd gemaak het om na God se wil te luister nie, en ook nie tyd gemaak het om deernis met die arm Lasarus te betoon nie, en dit suur bekom in die hiernamaals (Luk. 16:19-31).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar