Skip to main content

Psalm 66:13-20

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die leier/liturg van die geloofsgemeenskap sluit homself in sy toewyding aan die Here in deur getrou sy brandoffers vir sy sondigheid te bring en sy geloftes na te kom as getuienis van die Here se redding uit sy eie nood. Die Here het sy gebed verhoor en sy liefde nie aan hom onttrek nie.

Bid die Psalm

“Met brandoffers kom ek na u tempel; geloftes aan U wil ek betaal, geloftes met eie lippe en mond gesê toe ek diep in moeilikheid was. As brandoffer bring ek die vetste van my vee, as wierook die beste van my ramme. Ook bulle en skape sal ek offer. Sela Kom en luister, dienaars van God, ek sal vertel wat Hy vir my gedoen het. Ek het na Hom om hulp geroep, Hom geprys terwyl ek praat. As ek kwaad in my hart bedink het, sou die Here nie na my luister nie. Maar God het tog geluister; Hy het my gebed verhoor. Loof God wat my gebed nie verwerp het nie en sy troue liefde nie aan my onttrek het nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Ons bring vandag nie meer diereoffers vir ons sondigheid nie, want Jesus het eens en vir altyd ‘n offer aan die kruis gebring, Homself, wat ons van ons sondes verlos het (Hebr. 7:26-27). Ons gee egter steeds offers, maar van ‘n ander aard. Ons offers nou is dié van ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer van ons liggame, sowel as om Hom toe te laat om ons gedagtes te vernuwe om dit al hoe meer in lyn te bring met sy wil, dit wat vir Hom goed, en aanneemlik en volmaak is (Rom. 12:1-2). Daarby kom die offer van lof wat ons onophoudelik deur Jesus aan God bring deur oral sy Naam te bely. ’n Interessante stukkie kommentaar kom van die Psalmis op sy eie gebed na vore in vers 18-20 dat God nie sou luister as daar sonde in sy hart sou wees nie (vgl. Jes. 59:1-2 wat dieselfde boodskap dra: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.”) Daarom het die Here sy gebed nie verwerp nie, en sy troue liefde nie aan hom onttrek nie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar