Skip to main content

Psalm 60:8-14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid gaan voort in vers 8-10 om God se beskikkingsmag oor die nasies te beskryf (vgl. Ps. 108:8-11 wat hiermee ooreenkom), beide as verering van en belydenis oor God en as gebed dat God sy mense sal red en hulle in hulle grondgebied sal herstel.  Die name Sigem en Sukkotlaagte roep Jakob se verblyf in die land Kanaän in herinnering (Gen. 33:17-18), terwyl dié twee gebiede saam met Gilead, Manasse en Efraim die noordelike stamgebied verteenwoordig en Juda, Moab, Edom en Filistea die suidelike stamgebied verteenwoordig – die groot gebiede van die verenigde ryk onder Dawid. In vers 11-14 is dit weer Dawid wat namens die volk praat. Vers 11 se verwysing na die “versterkte stad” is moeilik om te interpreteer en kan moontlik dui op ’n gebed om verlossing van ’n bedreiging van “Edom” (Esau se nakomelinge) wat parallel daarmee gebruik word. ’n Geval van aanval is die beste verdediging?  Die res van die slotverse droom van ’n omkeer in hulle situasie sodat hulle met God aan hulle kant, sal oorwin en dat God self weer hulle vyande sal vertrap.

Bid die Psalm

“In sy heilige woonplek het God gesê: “As oorwinnaar sal Ek Sigem verdeel en die vallei van Sukkot uitmeet. Gilead is Myne, ook Manasse behoort aan My. Efraim sal my krygsmanne voortbring en Juda sal my konings oplewer. Moab sal my dienaar word en Edom sal my slaaf wees. Oor Filistea juig Ek as oorwinnaar.” Wie sal my lei na die versterkte stad? Wie sal my na Edom toe bring? Het U ons verwerp, o God? Sal U, o God, saam met ons leërs opruk? Help ons tog teen ons vyande, want menslike hulp is waardeloos. Met God se hulp sal ons seëvier, want Hy sal ons vyande vertrap.” NLV

Boodskap en Betekenis

Soos Jesaja 62 die droom het van wagte wat op die mure van Jerusalem roep dat God weer die mure sal herstel en God aan sy beloftes van herstell herinner, só kan hierdie Psalm ook gebruik word in tye van aanvegting en verydeling, dat God sy volk sal verenig en herstel.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar