Skip to main content

Psalm 58

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Steeds op die wysie van “Moenie verwoes nie”, spreek Dawid die wydverspreide probleem van ’n korrupte regstelsel aan. Dit sluit dus mooi aan by die boodskap van beide 1 Samuel 24 en Psalm 57. Dawid vra van God in Psalm 58 om optrede sodat almal sal sê: “Daar is regtig beloning vir dié wat toegewyd lewe; daar is beslis ’n God wat regverdig oordeel op aarde.” (vers 12). Die goddelose regters se mag, invloed, nalatenskap en lewe moet verwoes word, sodat die regverdiges bevestig kan word in hulle lewenskeuse en, belangrik, God weer kan raaksien. Die Psalm val natuurliker wys in vier dele uiteen: 1) ’n Beoordeling van die onbillike uitsprake van die regters – vers 2-3. 2) ’n Beskrywing van die oorsprong van hulle slegte, verkeerde en bedrieglike pad – vers 4-6. 3) ’n Beroep op God om hulle mag, invloed, nalatenskap en lewe te vernietig – vers 7-10. 4) ’n Beskrywing van die impak wat dit op die lewenskeuse en Godsbelewenis van regverdiges sal hê – vers 11-12.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Moenie verwoes nie”. Van Dawid. ’n Gedig. Julle wat regeer, is julle uitspraak regtig regverdig? Is julle beslissings oor mense billik? Nee! In julle gedagtes beplan julle reeds boosheid, met julle eie hande versprei julle geweld in die land. Bose mense is so vanaf geboorte; van kleintyd af praat hulle leuens. Hulle gif is soos die gif van slange; hulle is soos ’n adder wat doof is en nie luister na die slangbesweerder nie, hoe bedrewe die besweerder ook al is. God, slaan hulle tande stukkend in hulle mond. Here, breek die slagtande van hierdie leeus. Laat hulle verdwyn soos water wat wegsypel. Laat hulle vertrap word soos droë gras, soos ’n misgeboorte wat wegsmelt, soos ’n doodgeborene wat nie die son sien nie. Vinniger as wat ’n pot warm word oor ’n doringvuur sal God hulle wegvee, sowel jonk as oud. Die getroue sal bly wees by aanskoue van die vergelding. Die bloed van die goddeloses sal hy afwas van sy voete. Dan sal almal sê: “Daar is regtig beloning vir dié wat toegewyd lewe; daar is beslis ’n God wat regverdig oordeel op aarde.”” NLV

Boodskap en betekenis

Soos reeds by Psalm 57 opgemerk is, hierdie tipe sentimente “gee woorde aan ons woede”. Let ook op dat dit teenoor God uitgespreek word. Vir sy optrede word gevra. “When bitterness and pain are poured out to God, the way may be cleared for a fresh vision of reality and new trust in God. These psalms help to purify us of feelings of rage, and also of dereliction and abandonment.” (Tate, Word Biblical Commentary : Psalms 51-100) In die NT word hierdie verwagting meer genuanseerd uitgespreek, maar die beroep op ’n God wat reg laat geskied, is steeds deel van ons geloofswêreld, soos steeds grafies in ’n boek soos Openbaring uitgespreek word. ‘n Paar verdere opmerkings oor wraak in die OT: 1) Ons moet eerder die boodskap van die Psalm probeer verstaan as verdedig. Die Psalms bevat eerlike taal wat werklike emosies uitdruk en glad nie probeer om die woede en afgryse weg te steek nie. 2) Die waarde van die Psalms vir ons geestelike gesondheid is dat dié woede wat ons ervaar nie verberg hoef te word nie, maar teenoor God uitgespreek kan word waarmee ook vir sy optrede gevra kan word. 3) Die woedende worstelende woorde van die Psalms moet ons ook roer tot identifisering met mense wat aan onreg en geweld blootgestel is, sodat ons nie net hulle lot voor God sal bring nie, maar ook as God se verteenwoordigers betrokke sal raak in die verlossing wat nodig is vir dié wat uitgelewer is aan die magtiges van hierdie wêreld. 4) Nog dieper, dié Psalms moet ons ook oortuig van ons eie skuld, want ons is baie keer self onbillik en onregverdig, al is dit nie op só ’n groot skaal of met dieselfde afgryslike impak as wat mense in groter magsposisies kan uitoefen nie. 5) Die vyande is natuurlik uiteindelik ook nie net die menslike agente nie, maar die bose magte soos Efesiërs daaroor skryf. Oral waar hulle egter ontmasker word in die houdings en optrede van werklike mense en gekies word om daarteenoor in geloof, liefde en hoop te lewe (1 Tess. 5:8), dáárin lê die oorwinning oor die vyande opgesluit, dáár kom die koninkryk van God (Ef. 6:14-20).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar