Skip to main content

Psalm 18:1-4

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 18 is die oorwinningslied van Dawid oor sy vyande, veral oor Saul, en word ook in 2 Samuel 22 herhaal. In 2 Samuel 22 word die Psalm naby die einde van die verhaal van Dawid geplaas, saam met ‘n paar verhale oor die helde wat saam met hom geveg het, net voor die verhaal van sy seun Salomo, sy opvolger. Dawid het egter hierdie Psalm gesing nadat Saul op die slagveld gesneuwel het, moontlik met sy troonbestyging (vgl. vers 1). Ons lees Psalm 18 in ses dele.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Lied van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het die lied vir die Here gesing op die dag toe die Here hom uit die mag van al sy vyande en van Saul gered het. Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here; U is my sterkte. Die Here is my rots, my vesting en my redder, my God, en my rots by wie ek skuil. Hy is my skild, my magtige redder, my veilige vesting. Ek het tot die Here geroep, Hy wat lofwaardig is, want Hy red my van my vyande.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op dat Dawid homself nie in die eerste plek as koning beskryf nie, maar as dienaar van die Here. Dawid loof die Here vir Sy hulp in nood op ’n besondere wyse. Die pragtige woorde van hierdie Psalm weerklink daarom baie keer in ons kerke: “Ek het U baie lief, o Heer, my rots, my sterkte, my verweer.” (TT Cloete se woorde). Dink terug aan kere wat jy ook hierdie verlossing van vyande ervaar het, en loof die Here vir sy getrouheid in die verlede.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar