Skip to main content

Psalm 119:153-160

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die waarde van die twintigste deel van Psalm 119 lê ten diepste in die herhaalde onderstreping van belangrike eienskappe van die openbaring van God:

  • Dat God se beloftes en beslissings lewend maak en daarom getuig van God se troue liefde (Ps. 119:154, 156, 159);
  • Dat die hoofsaak van God se woord waarheid is: “Alles wat U sê, is betroubaar; u regverdige bepalings is vir altyd.” (Ps. 119:160).

Let op hoe ‘n mens hierin iets sien van God se liefde wat nie sonder sy waarheid tot sy volle reg kom nie. God se liefde en die liefde vir God bly altyd binne die raamwerk van die waarheid wat Hy geopenbaar het. Die omgekeerde is natuurlik ook waar. God se waarheid word binne die raamwerk van die liefde verwerklik.

Bid die Psalm

“Kyk tog na my lyding en red my; u gebooie het ek tog nie vergeet nie. Behartig tog my saak en bevry my! Laat ek lewe soos U beloof het. Bose mense is ver van redding, want hulle steur hulle nie aan u voorskrifte nie. Groot is u barmhartigheid, Here! Hou my lewe in stand volgens u bepalings. My vervolgers en vyande is talryk; tog wyk ek nie af van u eise nie. Ek kyk met afkeer na die ontroues, want hulle misken u woord. Sien raak dat ek u bevele liefhet, Here. Laat my lewe op grond van u liefde. Alles wat U sê, is betroubaar; u regverdige bepalings is vir altyd.” NLV

Boodskap en betekenis

Die ding wat vir my vandag uitstaan in hierdie twintigste deel van Psalm 119 – wat deur die herhaling onderstreep word – is die feit dat die beloftes en beslissings van God IN die ellende van regsake, in die agtervolging en teenstand van goddeloses en ontroues gegee word. Dit is IN die smeltkroes van snedige spotters wat die Psalmis vashou aan die lewe wat uiteindelik kom deur die einste woord wat deur die teenstanders vertrap word. Daarom dat die Psalmis se gebed is dat die Here sy ellende sal raaksien en hom sal red van die regsaak teen hom – waarskynlik vanweë sy vashou aan die waarheid – in die hoop dat sy vashou aan God se beloftes en beslissings en sy weiering om daarvan af te wyk, deur die Here raakgesien sal word. Ek dink ons vergeet dit net te maklik. Ons word daarom net te maklik mismoedig as ons vashou aan die Woord van God vir ons lyding en swaarkry inhou. Dit is ook nie anders in die NT nie. Dit is ontsettende insiggewend om te kyk na die beklemtoning van die waarheid in die Johannes evangelie juis in die konteks van teenstand:

  • Jesus noem Homself die Waarheid in die konteks van die naderende verraad van Judas en die verloëning van Petrus (Joh. 14:6). Die waarheid lok altyd teenstand uit.
  • Jesus getuig juis oor die waarheid as Hy deur Pilatus in die onregverdige verhoor ondervra word, net voor die uiteindelike verguising van die kruis: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.” (Joh. 18:37).
  • Die Heilige Gees word (onder andere) met die titel van Gees van waarheid bekendgestel (Joh. 14:17) in die konteks van die wêreld wat dié waarheid nie kan ontvang nie, trouens dit met stokke en swaarde sal beveg. Hy is immers ook die Trooster, dié een wat in teenstand kan vertroos.
  • Jesus begelei ons deur die Gees op soortgelyke wyse in die volle waarheid (Joh. 16:13) in die konteks van die teenstand van die wêreld. Die Here Jesus bid nie dat ons uit die wêreld weggeneem sal word nie, maar wel van die Bose bewaar sal word (Joh. 17:15 – dit is ook die rede waarom Hy dié gebed in die Ons Vader ingesluit het).
  • Let op dat Jesus spesifiek sy Vader namens ons vra: “Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid.” (Joh. 17:17). Dit kon netsowel ‘n opmerking oor Psalm 119 gewees het!

Laat ek dit dus helder stel:

Daar is dus geen innerlike stryd tussen die Waarheid as Persoon – Jesus, die vleesgeworde Woord van God – en die waarheid van die woorde van God nie – die Bybel, die skriftelike Woord van God.

  • Dat die Bybel deur mense geskrywe is met die taal en kennis van hulle konteks is onteenseglik só. Dat ons die Bybel in daardie konteks moet lees en uitlê, is onteenseglik ook só.
  • Maar, die Bybel is ook die Woord van God, waarin ons God se stem hoor. Dié mense is deur die Gees van God geïnspireer en het onder die leiding van die Heilige Gees van God die woorde van God neergepen.
  • Die Bybel is daarom nie net in die algemeen die Woord van God nie. Dit is ook in die spesifieke uitsprake daarin die Woord van God. Dit bevat ook, en is ook, die woorde van God.

Dít is waarop ek my lewe bou, in die nougesette lees, luister en leef van die Bybel as die Woord van God.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar