Skip to main content

Psalm 127

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm kom ook van Salomo, soos Psalm 72. Waar daardie Psalm gefokus het op die gebed dat God die koning in staat sal stel om na buite – veral met die oog op die volk en die nasies – volgens God se wil te regeer, fokus hierdie Psalm op die gebed dat God alles sal voorsien wat nodig is om na binne – veral met die oog op die tempel, stad en sy eie huis – volgens sy wil te leef. Daarom is dit ook van toepassing op die pelgrims, nie net in terme van hulle verwagting dat die koning of goewerneur volgens God se wil sal leef nie, maar ook dat hulle self volledig op God sal vertrou om vir hulle in staat te stel om in eie kring Hom in alles te dien.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak die wagte tevergeefs. Tevergeefs werk julle so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos julle swoeg om te bestaan. Maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap. Kinders is ’n gawe van die Here; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in ’n krygsman se hande, so is seuns gebore in ’n mens se jeug. Gelukkig is die man wie se pylkoker vol van hulle is. Hy sal nie beskaam word wanneer hy in die stadspoort met sy vyand onderhandel nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n Psalm wat ons ter harte kan neem vir ons eie konteks. Die Psalm vier twee gawes van die Here, dinge wat nie losstaan van ons eie inspanning en werk nie, maar ten spyte daarvan steeds genadegawes bly. 1) Die eerste gawe is God se voorsiening in ‘n mens se werksomgewing. Vir Salomo het dit beteken dat hy die huis van die Here, die tempel, gebou het, sowel as dat sy mense oor die stad wag gehou het, en hy sy werk as koning met ywer verrig het. Die Psalmis bely egter dat ‘n mens se geswoeg tevergeefs is, as die Here die huis nie bou nie. Tevergeefs bly ‘n mens wakker om wag te hou, as die Here nie oor die stad die wag hou nie. En tevergeefs staan jy vroeg op en gun jouself nie eers tyd om ‘n wyle te sit nie terwyl jy met inspanning jou brood probeer verdien, as die Here nie daarin teenwoordig is nie. Trouens, soos Salomo dit een keer ervaar het, die Here gee dit vir jou in jou slaap. Die Psalmis verwys hier waarskynlik na Salomo se roepingservaring waar hy ‘n luisterende hart van die Here ontvang het terwyl hy geslaap het (1 Kon. 3). Sy naam Salomo het vrede beteken, maar insiggewend genoeg, skryf een van die Vroeë Profete dat die Here hom liefgehad het en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem het, wat beteken: “die Here het hom lief” (2 Sam. 12:25). 2) Die tweede gawe is God se voorsiening in ‘n mens se familie omgewing. Alle kinders is gawes van die Here, maar seuns is spesifiek in die konteks wat hier aangeraak word, ‘n bonus. Hulle is ‘n erfdeel wat die Here gee deur die vrug van die moederskoot wat soos pyle in die hand van ‘n krygsman is, met die oog op die moontlikheid van fisiese aanvalle. Selfs wanneer ‘n mens egter in die poorte – waarskynlik dui dit op regspraak – met vyande woorde wissel, sal jy nie beskaamd staan nie, en jouself met ‘n klomp getuies wat aan jou kant is, kan verdedig. Dié Psalm moedig ons dus aan om voluit te lewe – in werks- en familie-verband – maar jou vertroue op God te plaas wat vir albei oorvloedig kan voorsien.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar